top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Gevang


Lees Romeine 8:8

 

Dis verskriklik om ‘n gevangene te wees. As jy permanent tussen selmure vasgekeer sit  en nêrens het om heen te gaan nie, dan moet dit uiters neerdrukkend wees. Mense wat toelaat dat hulle sondige aard seëvier, is presies hier. Hulle is gevangenes van hulleself. Hulle het toegelaat dat hulle selfsugtige denke hulle koppe in ‘n bloedlose staatsgreep oorneem. Ook het hulle toegelaat dat destruktiewe gewoontes toegang tot hul lewe kry. Daarom is hulle nie net gevangenes nie, maar ook slawe. Hulle het aan dinge verslaaf geraak, wat God nie laat wen in hulle lewe nie.

 

Daar’s net een manier om verslawende denke te breek en dis om op God te fokus. Jy moet Sy Gees vra om jou hart baie stil voor God te maak. Dan moet jy elke dag in afwagting op Sy heilige teenwoordigheid jouself soos ‘n leë houer tot Sy beskikking stel. Wees klei in die Here se hande. Wag op Hom. Rig jou gedagtes op Hom, soos wat Paulus elders in Kolossense 3:2 skryf. Laat jou gedagtes God-vol en self-leeg raak. Dan val die kettings van die ou jy van jou skouers af. Dan swaai daardie tronkdeure oop. Maar jy moet dit elke dag inoefen. Raak elke dag vir sowat 20 minute met ‘n oop hart stil, waar jy net op Christus ingestem is. Net dit! Dan sal die Gees jou lewe stukkie vir stukkie met hoop en krag transformeer.

 

Gebed:

Ek wag op U, Christus. Ek wag met my hele hart. Amen.

Comments


bottom of page