top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Nice is nie dieselfde as goed nie


Die samelewing vandag sal soveel kan leer uit sommige van die ou klassieke skrywers in die geskiedenis. Een outeur, wat so ryk is aan intellektuele diepte, verhoudingswysheid en menslike insig, is Jane Austin. In een van haar ongelooflike fiksieverhale, Mansfield Park, word vertel hoe ‘n arm dogter, Fanny Price, die geleentheid kry om by ryk, geleerde mense, die Bertrams, te gaan bly sodat sy ‘n goeie opvoeding kan kry. Hier leer sy egter gou dat byna nie een van die Bertram-kinders haar werklik aanvaar en betrek by hulle kring nie. Hulle blyk opperste snobs te wees en hulle laat haar by elke geleentheid voel hoe sy steeds die buitestander en eintlik maar van twyfelagtige herkoms is. Hulle beoefen egter hulle sluwe karakter op so ‘n uiters subtiele en gesofistikeerde manier dat die pa van die huis nie die ware karakter van sy dogters onmiddellik agterkom nie. Daar gebeur toe later iets heel anders wat aantoon hoe liefdeloos die Bertram-kinders eintlik is. Hierop lewer ‘n teleurgestelde mnr Bertram gevolglik die volgende kommentaar:


“I always relied on my children being good, but it seems they were only well mannered.

Om op die oppervlak gemanierd en beleefd te wees, beteken nie iemand is ‘n goeie mens nie. Ek wonder of baie mense vandag nie die twee met mekaar verwar nie. Trouens, in Austin se stories maak sy nogal baie daarvan dat karakters, wat aanvanklik nice lyk, later eintlik die skurke in die verhale is. Sommiges, wat aanvanklik effens kru voorkom, blyk later goeie mense te wees. So is daar byvoorbeeld in ‘n ander Austin-verhaal, Pride and Prejudice, ‘n karakter genaamd Darcy, wat aan die begin geheel en al bot voorkom en deur sommige mense selfs as onbeskof beleef word. Later word dit egter openbaar dat hy ‘n uiters goeie, morele mens is wat bloot ‘n groot introvert en ongemaklik tussen vreemde mense is. Alhoewel dit vir ‘n mens begrip vir Darcy gee, is introversie natuurlik geen verskoning vir slegte gedrag nie.


Wat die goeie karakters egter goed maak, volgens Austin, is dat dit mense is wat altyd eerlik en opreg is in wat hulle sê en doen. Hulle sê wat hulle bedoel en bedoel wat hulle sê. Maar die grootste en belangrikste eienskap, wat hierdie mense openbaar, is die lojaliteit, wat hulle openbaar jeens vriende en die oppoffering wat hulle maak ten opsigte van hulle medemens. Om bloot nice te wees, is maklik. Om goed gemanierd te wees is maar bloot wat die kultuur van ons te vereis. Dit beteken egter nie ons is goed nie. Maar om opreg en eerlik te wees, selfs al lei dit tot jou eie ondergang, verg Goddelike karakter. Om jouself vir vriende op te offer sonder om die krediet te kry, is integriteit.


As ek na Jesus kyk, kan ek sien dat hy goed was, empaties, liefdevol. Hy het immers sy lewe kom aflê, nie vir Homself nie, maar vir ons. As ek egter sien hoe hy met die Fariseërs en skrifgeleerdes gepraat het en soms self met Petrus, was Hy nie altyd nice nie. Ek bedoel, wie wil nou hoor “Gaan weg agter my Satan!” of “julle addergeslag” of “witgepleisterde grafte!?” Dit klink nie op die oor af so nice nie. Dit is egter wel liefdevol en nodig. Goeie mense kan nie altyd nice wees nie, want nie alles is reg in die wêreld nie. Daar is ongeregtighede, wat reggestel moet word. Daar is leuens, wat gekonfronteer moet word. Daar is ongesonde mag, wat oor die vingers getik moet word en goeie mense moet dit doen. Mense, wat net nice wil wees, sal dit nie doen nie, want dit verg te veel moeite en opoffering. Soms is nice, goedgemanierde mense nie jou vriende nie en teenstaanders, wat kwaai voorkom, is nie altyd jou vyande nie.


Dis sekerlik in sommige omstandighede moontlik om nice sowel as goed te wees, maar as jy moet kies, wees eerder goed.

Commenti


bottom of page