top of page
Writer's pictureSiegfried Louw

Dors


Ons dorp het ʼn trimpark gehad. Dit was ʼn speelpark met ekstra oefenapparate. Die een speelplek het jou toegelaat om aan jou arms te hang. Jy het dan soos ʼn apie oorgeswaai na die ander kant toe, maar slegs as jou arms se spierkrag en jou uithouvermoë dit toegelaat het.


Ek onthou hoe die dors my soms daarna beetgepak het. Die geoefen was nogal rof. In dáárdie tyd was ʼn beskikbare kraan in ʼn parkie nie ʼn snaakse vonds nie. Ons het almal gereeld gaan water drink.


Verlede naweek sien ek toe hoe iemand se waterbottel spesiale merktekens op het. Die bottel is met strepe en slagspreuke gemerk, sodat jy gemotiveerd kan voel om elke kort-kort ʼn paar slukke water te neem. Volgens navorsing is daar tot 37% volwassenes, wat nie eintlik meer weet hoe dit voel om dors te wees nie. Blykbaar is daar heelwat van ons wat dorsheid verwar met honger. Ons kan aan ons lyf aanvoel dat ons iets benodig en dan maak ons die koskas of die yskas oop. Inderwaarheid benodig ons skoon water, maar ons herken dit nie as dorswees nie. Dan eet ons maar ietsie. Gevolglik is daar baie van ons wat eintlik te min water drink. Ons dínk dit is alles in orde, want ons voel nie dors nie.


Daar is allerhande metodes om weer jou natuurlike dorsinstink terug te kry. Sodra jy dit terug het, kan jy weer die gevoel herken wanneer jy dors is. Net soos toe jy kleintyd tydens pouse se gespeel of in die dorp se parkie dors gevoel het. Die gevolg is dat jy meer gereeld water drink en dat jou liggaam die nodige vog kry om gesond te funksioneer. Ons kan weer ontdek hoe dit voel om dors te wees, sodat ons genoeg water kan drink.


Ek dink ook dat ons na die Here dors kan raak, maar ons leer onsself hoe om dié dors te ignoreer. Dan vervang ons die Here met iets anders. Ons vul ons lewens dan met dinge en besigwees, wat nie ons dors les nie.


Miskien lewe ons in ʼn tyd waartydens ons ʼn bietjie meer behoort te konsentreer op dít waarvoor ons werklik dors is. Is daardie dryfkrag wat jou motiveer, werklik die drang wat jou menswees najaag? Of is dit miskien ʼn drang na God self? Wat sal gebeur as jy meer fokus op die Lewende Water? Is dit dalk moontlik dat jy dan méér bewus sal wees van jou dors na God? Ek wonder wat met ons sal gebeur as ons weer onthou hoe dit voel om dors te wees, om dors te wees na die Here self.


As ons kan leer hoe om weer dors te voel vir gewone water, kan ons ook ons dors na God herontdek. Die vraag is: Hoe wil jy dit doen?


Psalm 63:2: “God, U is my God, na U soek ek; my siel dors na U, my liggaam smag na U in 'n droë, uitgeputte land sonder water.”

Comments


bottom of page