Wat bind ons saam?
top of page

Wat bind ons saam?


In die onlangse fliek, Big George Foreman, skuil daar verskeie interessante lewenslesse. Soos voorheen verduidelik handel die fliek oor die bokser, George Foreman, wat wêreldkampioen was en op vyf en veertigjarige ouderdom teruggekeer het na die bokskryt en die wêreldtitel vir ‘n tweede keer verower het. Hy het ook later tot geloof in Jesus gekom en voluit vir die Here begin leef, later as predikant van ‘n arm gemeenskappie in die VSA.


Foreman was ‘n uiters interessante, kreatiewe en onkonvensionele figuur en het dinge op sy eie manier gedoen. Een van sy interessanthede was dat hy sy vier seuns George Foreman II, George Foreman III, George Foreman IV en George Foreman V genoem het! Hoekom sou hy so-iets doen, wat so vreemd is? Sy antwoord was eenvoudig:


I want them to have something in common. We are one. If one of them goes down, we all go down. Up, we all go up.

So eenvoudig soos dit.


‘n Mens sou maklik kon redeneer dat daar seker beter maniere is om eenheid tussen jou kinders te bewerkstellig. In hierdie geval is dit egter seker die idee wat tel. ‘n Mens moet onthou dat Foreman self baie moeilike kinderjare en gesinslewe gehad het. Hy wou seker maak dat sy nuwe gesin goed met mekaar oor die weg sou kom om ‘n positiewe gesamentlike impak op die wêreld te hê.

Dit laat my dink aan Jesus, wat ons ook tot een familie aan die kruis verenig het. Medegelowiges is bloedfamilie van mekaar. Sý bloed bind ons saam. Dis wat ons met mekaar in gemeen het. Ons dra egter ook Sy Naam. Ons word Christene genoem. Of Jesus-volgelinge. Sy Naam het ons identiteit geword; Sy offer het ons samebindende faktor geword; Sy familie het nou ons familie geword. Daarom bid Hy ook vir ons tot die Vader. Hy bid vir ons eenheid. Vier maal vra Hy dit in Johannes 17:


- ... sodat hulle soos Ons een kan wees. (v 11)

- Ek bid dat hulle almal een mag wees... (v 21)

- ...sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is... (v 22)

- ... sodat hulle volkome een kan wees... (v 23)


Dis g’n wonder dat Jesus in Matteus 18:10 die bevel gee dat medegelowiges mekaar nooit mag minag nie. Ons is familie. Ons hoort bymekaar. Ons is nie mekaar se vyande nie. Ons is onafskeidbaar aan mekaar deur Sý lewe, dood en opstanding vasgebind.


Dit beteken nie dat daar geen drama, konflik of spanning onderling tussen ons kan wees nie. Ons kan mekaar verseker irriteer, frustreer en teen die mure uitdryf. Dis wat familie trouens soms doen. Voordat ons mekaar egter summier kanselleer of afskryf, moet ons net eers onthou dat ons almal Sy Naam dra en dat ons Sy bloedfamilie is. Ons kan verskil, maar ons kan mekaar nooit minag nie.


So belangrik was dit vir Jesus dat Hy vir ons eenheid gebid en gesterf het.

bottom of page