top of page

Leiers inspireer!


Daar word deur baie beleef dat mense in ons tyd moeg en moedeloos is. Dis sekerlik waar. Dis nie moeilik om vandag rond te kyk en gou ontnugter te word oor sommige van die chaos, misdaad en oneffektiwiteit in die land nie. ‘n Baie vaardige en ervare Christen-leier in die besigheidsomgewing gee egter vir my nou die dag ‘n nuwe perspektief hieroor. Hy het vir my gesê:


People aren’t tired. They’re uninspired.


Hierby het hy bedoel dat daar vandag te veel leiers is wat in sak en as saam met die res van die wêreld gaan sit. Min leiers inspireer deur middel van hulle lewens en lewensuitkyk. Leiers lyk deesdae nes hulle volgelinge: lewensmoeg en vuisvoos. Dis natuurlik waar dat leiers simpatie en empatie teenoor mense moet toon. Leiers is self ook kwesbaar en raak slagoffers van slegte omstandighede. Leiers is egter leiers juis omdat hulle God en die evangelie raaksien waar ander mense Hom nie sien nie. Leiers is mense, wat motiveer en inspireer. Hulle bring energie, geloof en hoop!


Hulle lei egter veral met hulle geloof. Ek sou wou beweer dat die diepte van hulle geloof die primêre wapen in die arsenaal van ‘n gelowige leier is. Geloof is byvoorbeeld uiters noodsaaklik en prominent in al vier die evangelies. Jesus verstaan en begryp twyfel en wanhoop. Hy beloon egter ook geloof. In die evangelie van Markus prys Hy voortdurend sommige heidene, wat meer geloof as sommige Israeliete het. Hy kritiseer Sy dissipels gereeld omdat hulle te min geloof het. In Markus 4:40, na Hy die storm stil gemaak het, sê Jesus vir Sy dissipels:


Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?


Ek wonder of Jesus nie vandag ook sommige leiers weens hulle gebrek aan geloof kritiseer nie. Mense het inspirasie nodig en hulle kry dit by geestelike leiers. Hulle kry dit veral wanneer hulle sien hoe leiers God in donker omstandighede raaksien en besef hoe leiers glo dat God aan die werk is en die vaste hoop het dat die toekoms beter kan wees. Volgens die leierskap-ghoeroe, Noel Tichy, is hierdie ‘n belangrike deel van leierskap.


In moeilike en donker tye weet leiers die volgende:


  1. Geloof bring die innerlike dringendheid en motivering om voort te beur ongeag van wat gebeur. Leiers erken die moeilikheid en sien dit raak. Leiers laat egter nooit toe dat die fokus daar bly nie. Die fokus bly altyd op die nood, wat aangespreek moet word en die verskil wat gemaak word, die hoop wat geskep moet word en die moedeloosheid wat opgehef moet word.

  2. Geloof bring inspirasie vir die missie. Dis een van die redes waarom die missie so belangrik is. Die missie lig die organisasie bo die pyn of hopeloosheid van die oomblik uit en verskuif mense se fokus na die toekoms toe.

  3. Geloof skep verbeeldingryke en hoopvolle doelwitte. Gelowige leiers skep groot doelwitte. Hulle mik hoog, want hulle weet die nood is groot en hulle weet God is almagtig. Hulle is nie onrealisties nie, maar die grootste realiteit, waaraan hulle vashou, is God.


Leiers doen al hierdie inspirasiewerk met liefde, deernis en sorg dat verhoudings gesond bly. ‘n Leier neem sy gemeenskap of organisasie saam met hom deur almal rondom die geloof en hoop te verenig dat die toekoms beter kan wees en selfs al is dit nie, sit God steeds op die troon en is Hy al die bewondering en aanbidding waardig.

Comments


bottom of page