Het jy my lief?
top of page

Het jy my lief?


Lees Johannes 21.


Tydens ‘n onlangse reis na Israel is ek opnuut gekonfronteer met die woorde van Jesus aan Petrus: “Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief?”


Ons sit in die snikhete son van Israel, by 38 grade onder koel bome langs die meer van Tiberias en luister na die verhaal van Petrus in Johannes 21. Die dissipels was besig om vis te vang toe die Here vir hulle sê om hulle nette aan die ander kant van die skuit in te gooi. Hulle nette is toe vol vis, en hulle besef dit is die Here wat met hulle praat. Hulle is terug na die land en het die visnet uitgetrek. Dit was vol vis, maar die net het nie geskeur nie. Waar Jesus teenwoordig is, is daar altyd oorvloed.


Jesus het ‘n vuurtjie gemaak en hulle het die vis daar gebraai. Niemand wou vra wie Hy was nie, want hulle het geweet dit was die Here,(– vers 12). Ek kan my die rustige toneel voorstel waar die groepie mans sit en langs die vuur ontbyt eet. Dan is daar die skielike direkte vraag aan Petrus. Ek sien hoe die Here Petrus vas in die oë kyk en hom dan vra of hy Hom liefhet.


Kort tevore met die kruisiging het Petrus die Here drie keer verloën en ontken dat hy Jesus enigsins ken. Hy is terug na Tiberias en het sy lewe as ‘n visserman gaan hervat. Hy het weggekruip van sy roeping.


Ek dink myself in Petrus se skoene in, toe hy hierdie direkte vraag moet antwoord. Hy besef hy praat met die opgestane Here. Die Here vra dieselfde vraag drie keer. Petrus het driekeer die geleentheid om te bevestig dat hy die Here liefhet! Elke keer antwoord Jesus hom met ‘n opdrag. Hierdie drie opdragte verander dan in Petrus se roeping wat hy getrou daarna uitleef in sy lewe.


Wat sal jou antwoord wees, as jy so direk gekonfronteer word? Terwyl ons onder die bome sit en luister na die boodskap, en ek gekonfronteer word met die vraag, roer my hart en die trane loop. Ek weet ek is lief vir die Here! “Ja, Here, ja, ek het U lief!” roep ek uit in my hart, ek wil my roeping leef! Ek dien U! Ook in die toekoms. Gee of skep ook vir my geleenthede.


Ek wil jou uitdaag vandag om jou hart se diepste skuilplekke te ondersoek. Vee die spinnerakke uit, stof jou geestelike denke af en antwoord die opgestane Here se indringende vraag aan jou. Wy jou lewe opnuut toe aan die Here en leef voluit as Sy toegewyde kind in die aardse roeping wat Hy vir jou gee.

bottom of page