Wat Batman ons kan leer oor vrees
top of page
  • Writer's pictureekerk

Wat Batman ons kan leer oor vrees

deur Roedolf Botha

As daar een emosie is wat mense in hierdie Corona-Lockdown-tyd moet leer verwerk is dit ons vrese. Diegene van ons wat nie tans verlammende vrees beleef nie, is tog diep besorg oor sekere verwikkelinge in hierdie tyd. Maar selfs onder die grootste optimiste onder ons, fluktueer ons gevoelens maar baie tussen gesonde besorgdheid en toksiese vrees. Ons vrees die toekoms en veral die ekonomiese impak wat Covid 19 op die horison vir ons laat wag.


In die gesofistikeerde weergawe van Batman, in Christopher Nolan se Dark Knight Trilogie, sien ons hoe belangrik dit is om vrees reg te hanteer. In die eerste van die drie rolprente – Batman Begins – is daar veral vier karakters wat vrees op verskillende maniere hanteer.


Die eerstens karakter is Falconi. Hy is euwel ‘n bendeleier wat sy eie vrees gebruik as rede om vrees in te boesem by ander. Hy poog om sy eie toekoms te verseker deur mag met geweld op te bou. Die doel is om so intimiderend en magtig te wees dat hy weet ander mense sal hom nooit uitdaag of bedreig nie. Sy vrees maak hom dus magsbehep en hy gebruik al sy finansiële- en sosiale mag om homself te bevorder sodat hy in beheer bly.


Tweedens ontmoet ons vir Scarecrow. Hierdie vreemde karakter gebruik sy eie vrees om geestelike beheer oor ander mense uit te oefen en so sy eie veilige toekoms te verseker. Sy vrees dryf hom daartoe dat hy ander mense sielkundig beïnvloed en manipuleer tot sy eie voordeel. So poog hy ook om beheer te behou.


Derdens kom ons die groot boosaard in die storie tee met die vreemde naam Ra’s al Ghul! Hy gebruik weer sy eie vrees om diegene in die samelewing waarmee hy nie saamstem nie ”tereg te stel” as kriminele. Hy projekteer ook sy eie vrees op die massas om hulle te beheer. Hy besluit dan sommer self wie skuldig is aan kriminele gedrag en wie nie. So poog hy om ‘n selfgesentreerde toekoms te verseker wat hy vir homself visualiseer.


Wat uitstaan van hierdie eerste drie karakters is dat hulle hulle donker emosies oordra na die samelewing buite hulleself, en ander onskuldige mense laat deel in hulle eie onverwerkte vrese. Hulle maak dus hulle eie vrese die probleem van die mense rondom hulle. Op hierdie manier het hulle hulle eie vrees dus steeds toegelaat om ander se gedrag te beheer. Die probleem met hierdie benadering egter dat al drie hierdie persone uiteindelik alle beheer verloor. Wat doen jy dan?


Batman is egter die vierde karakter en met hom is dit anders. Hy loop ook met vrese. Sy vrese word saamgevat en simbolies uitgebeeld deur sy een groot vrees wat hy het vir vlermuise. As kind het hy in ‘n grot ingeval en moes lank wag voordat hy pa hom kom uithelp het. Terwyl hy egter verskrokke in die donker vir sy pa moes wag was daar gedurig vlermuise wat om sy kop gedraai het en hom telkens opnuut skrikgemaak het. Vandaar sy lewenslange vrees vir hulle.


Hy het sy vrese egter leer bemeester deur die pyn en ongemak daarvan die hoof te bied. Hy het dit nie na buite geprojekteer nie maar diep in sy eie binneste ingekyk. As volwassene het hy doelbewus terug gegaan na die grot met die vlermuise met die doel om genesing te kry vir sy vrese. Hy het uiteindelik sy hele Batman-basis – vanwaar hy mense gehelp en beskerm het – geskuif na daardie einste grot. Dus moes hy elke liewe dag die vlermuise opnuut face en tussen hulle leef. Hy het homself byvoorbeeld onder andere gestaal en geoefen om in hulle midde te staan terwyl hulle in hulle hordes rondom hom fladder en vlieg.


Die verrassende gebeur toe. Hy raak so gewoond daaraan om sy vrees elke dag tegemoet te gaan en die hoof te bied, dat dit sy karakter positief begin beïnvloed. Hy raak dapperder in sy persoonlike hoedanigheid en begin geweldige risiko’s neem met die doel om ander mense te help en te veg teen misdaad. Sy aanvanklike vrese skakel toe juis om in die innerlike krag en motivering wat hy nodig gehad het om mense mee te help! Sy vrees kon sy gedrag nie permanent beheer nie. Hy het uiteindelik eerder sy vrees gebruik in diens van ‘n hoër doel.


Batman se hantering van sy eie vrees verteenwoordig in ‘n groot mate die kruisgesindheid van die evangelie. Die Goeie Nuus van Jesus gee vir ons die inherente krag en geloof om na binne te kyk en ons eie vrese te face saam met Jesus. Hy het immers al lank voor ons deur die kruis-gebeure beweeg. Jesus was ook angstig oor sy eie dood en lyding net soos ons (Matt 26:37-39). Die Bybel vra ons dus eintlik om tegelykertyd na agter, na binne en na Bo te kyk.


  • Ons kyk agtertoe in die geskiedenis om te sien hoe Jesus sy vrees ge-face het aan die kruis en steeds oorwin het. Sy liefde vir ons het sy vrees oorwin.

  • Ons kyk na binne toe om eerlik en realisties te wees oor die ware aard en impak van ons vrese en benoudhede.

  • Ons kyk na Bo omdat ons God vertrou om met ons te wees en ons deur te dra.


Jesus-volgelinge mag nie hulle eie vrese ignoreer nie. Hulle erken dit soos Jesus, face dit en doen steeds die liefdevolle ding.


Paulus, Petrus en die vroeë kerk het in Jesus se voetspore gevolg.


Mag ons ook, veral in hierdie tyd.


© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page