Vry, uiteindelik!
top of page

Vry, uiteindelik!


Lees Romeine 8:2


Nuwe wette geld nou sedert die Gees se koms. Die wet, wat sonde en dood gebring het, waarna Paulus in Romeine 7 verwys, se dae is getel. Daardie dae toe die wet as ‘n rottang gefunksioneer het, is verby. Inderdaad het die wet in die tyd van die Ou Testament die sonde meer gemaak, soos wat Paulus ook vertel, want die wet gee name aan verkeerde dade, name soos diefstal, moord, begeerte. Die einste oomblik as sonde sulke name het, dan vermeerder dit, want nou kan jy sonde duidelik kategoriseer en sondedoeners daarmee verbind. Daarom was die wet voor Christus se koms ‘n sonde-uitsnuffelaar en skuldigbevinder in een en dieselfde asem. Soos wat Paulus ook in Galasiërs 3 sê - niemand kan die wet volkome hou nie. Hy beaam dit in Romeine 3; daarom is ons almal skuldig voor God. Maar toe verander Christus se koms dit alles met een genadestreep.


Jesus het kom doen wat die wet of die offers by die tempel nie kon regkry nie, naamlik om vir altyd volkome te betaal vir alles wat verkeerd is. Boonop het Hy die Gees, wat nuwe lewe bring, aan ons gegee. Die Gees maak ons vry van die ou funksie van die wet om sonde en ook die dood te openbaar. Nou is die juk van die wet opgegee. Nou is ons vry voor God. Nou kan ons Hom sonder vrees vir straf dien.


Gebed:

Dankie vir die nuwe vryheid. Nou kan ek U opreg dien, Here. Amen.

bottom of page