Vreemde Somme
top of page

Vreemde Somme


Net nou die dag nog hoor ek hoe iemand sê: “Nee wat, jong. So gemaak en so gelaat staan. Jy kan maar los.”


Dit het my ook laat dink aan ʼn ander gesegde: “Daar is geen salf meer aan te smeer nie.” Gewoonlik kom daardie laaste sinnetjie met ʼn wenk of twee by, wat meestal aandui dat jy maar liewer van ʼn moeilikheidmaker af moet wegstap.


Daar is egter altyd die gelykenis van die 100 skape. Ek is gewoonlik heeltemal in my skik met God se vreemde somme. Jesus reken immers dit is heel logies dat ʼn goeie herder 99 skape alleen sal los om een verlore skapie te gaan soek. Dit klink nie reg nie. Enigiemand wat ʼn idee het hoe risikobestuur werk, sal vir jou vertel dat dit nie na ʼn baie goeie som klink nie.


Waarom is ek dan in my skik met Jesus se somme? Die antwoord is eenvoudig: Ek identifiseer myself graag met die een verlore skapie. Dit is sulke wonderlike nuus om te dink dat God my spesiaal kom soek en versorg.


Maar daar is ʼn uitdaging aan my eie interpretasie verbonde. Die kanse is baie groter dat ek eintlik eerder een van die 99 skapies is. Ek glo mos al lankal in Jesus. Trouens, ek het in die kerk grootgeword en van kleins af geleer wat dissipelskap beteken. Jesus se gelykenis daag my eerder uit om te dink oor die manier waarop God in die wêreld teenwoordig is. Dit daag my ook uit om te dink oor wat God van my vra. As Jesus agter die verlore skapie aan gaan en ek reken dat ek Jesus volg, waarheen behoort my voetspore dan te gaan?


Dalk is dit goed om onsself maar eers te assosieer met die een enkele verlore skapie. Dit sorg dat ons weet hoe dit voel om gesoek en gevind te word. As Jesus dan die genade en liefde het om my te kom soek, dan is dit seker in orde dat Hy ander skapies ook gaan gaan haal.


God se vreemde somme laat my glimlag, wanneer ek die een is wat genade ontvang. Dit vang my egter vir ʼn oomblik onkant, wanneer iemand anders aan die ontvangkant van God se genade is. Miskien is dit die punt van Jesus se gelykenis: Om ons te laat sug van verligting, wanneer ons gevind word sodat ons ook groot treë agter verdwaaldes aan kan gee.



bottom of page