Vra jou vrae sonder om gedurig alles te bevraagteken
top of page

Vra jou vrae sonder om gedurig alles te bevraagteken


Die Nobelpryswenner en fisikus, Isidore RabI, vertel hoedat sy maats gedurende sy kinderjare gedurig na skool by hulle ouers een vraag gehoor het: “Wat het julle vandag geleer?” Sy ma het egter iets anders vir hom gevra: “Izzy, did you ask good questions today?” Om goeie vrae te vra, is om te groei. Om goeie vrae te vra, is om aanhoudend nuwe dinge te leer.


Geloof in God sluit nie goeie vrae uit nie. God kan al ons vrae hanteer. Trouens, geloof skiet dikwels wortel en groei nog dieper in die omgewing van goeie vrae. Een van die beste vrae ooit word juis voor die hemel se deur gelê deur daardie groot vervolger van die kerk. Ek praat van Paulus. Voordat hy in in Christus begin glo het, vra hy ‘n kanonvraag op die pad na Damaskus toe, waar hy van plan was om Christene te gaan vang. Wanneer ’n hemelse lig skielik daar op Paulus skyn, vra hy: “Wie is U, Here?” Dan hoor hy dit is Jesus, wat nou met hom praat. Dit is Jesus, wat hy besig is om te vervolg. Wat ’n goeie vraag, een wat lei tot ’n splinternuwe lewe vir Paulus!


Goeie vrae is lewensveranderend. Oppas egter om goeie vrae te verwar met met goor vrae, wat gedurig alles betwyfel en almal bevraagteken. Sulke vrae lei uiteindelik tot ’n siniese lewensingesteldheid. Dit lei tot ’n lewe wat ronddobber tussen niks en nêrens. Iewers moet jy anker gooi met jou lewe, ook wat jou vrae betref. Iewers moet jy tot rus kom. Nee, dit beteken nie jy hou op om vrae te vra nie, maar jy maak seker jou vrae ontspring dan uit ’n plek van geankerdheid. Dan is jy nie soos ’n golf, wat gedurig deur die rustelose winde van die lewe heen en weer gewaai word nie. Dan kry jy jou antwoorde by die Here self. Nog beter: dan word Hyself die antwoord. Dan begryp jy die Here laat Homself graag deur opregte vraagstellers vind.

bottom of page