Om “onderweldig” te wees
top of page

Om “onderweldig” te wees


“Oorweldig” is ’n mooi Afrikaanse woord. Dit sê jy is só beïndruk met iets of iemand dat jy nie genoeg woorde het om jou goeie emosies te beskryf nie. In Engels sê mense graag hulle is “overwhelmed”, maar partykeer is ons ook “underwhelmed”. Ek dink nie daar is ’n gepaste Afrikaanse woord hiervoor nie - kom ons skep sommer een: “onderweldig!” Mense wat “onderweldig” is, is net mooi glad nie beïndruk met enigiets of enigiemand nie.


“Onderweldigheid” tref mense soms ook in die kerk. Hulle raak moedeloos met nuwe strominge of gebruike. Of met sekere kerklike leiers. Of met hulle plaaslike gemeente. Wie weet, dalk het so-iets ook al met jou gebeur. Hoe dan gemaak? Hoe hanteer ‘n mens jou eie “onderweldigheid”? Wel, kom ons sê eers vir mekaar ander mense sal ons een of ander tyd teleurstel. Ónsself sal ander mense ook teleurstel. Dit is ’n feit. Ons moet nooit al ons hoop op onsself of ander bou nie. Ons moet ook nie te hard op mekaar wees nie, dan gaan ons gedurig teleurgesteld wees. Kom ons vra die Here om ons eie kyk na onsself en na ander sagter te maak, om ons kritiek en foutvinderigheid vas te vat. Kom ons sien die Here se goedheid raak in ons eie lewe en in dié van ander, eerder as om almal se fabrieksfoute raak te sien. Dan verdamp ons eie “onderweldigheid” kort voor lank. Dan kyk ons reg, soos wat die Here van ons vra.

bottom of page