Verwondering eerder as verwonding
top of page

Verwondering eerder as verwonding


Die Nobelpryswenner, Herman Hesse (1877-1962), het ’n mooi artikel oor skoenlappers geskryf, waarin hy ook oor verwondering en skoonheid nadink. Hy haal onder andere vir Goethe aan, wat gesê het: “Ek is hier sodat ek verwonderd mag wees.” Hesse meen dat universiteite en ander instellings, wat ons ook van verwondering en wysheid moet leer, op te veel plekke in rigiede kennis en teorieë vasgeval het. Die kerk en teologie kry soms dieselfde met hulle ingewikkelde dogmas en eindelose strydgesprekke reg. Op te veel terreine in die lewe lei sulke rasionele oordaad tot emosionele atrofie. Anders gesê: Ons harte raak hard, omdat ons emosies afstomp. Sulke emosionele afgestomptheid is letterlik sieldodend!


Hoe word verwondering weer deel van ons lewe? Wel, ons moet vir die Here vra om daardie herstelknoppie in ons hart aanhoudend te druk, daardie een wat ons verskuif vanaf emosionele afgestomptheid na nuuskierigheid, leergierigheid en opgewondenheid. Dit vra dat ons onsself moet oopstel om gedurig deur die grootsheid van God se handewerk rondom ons verras te word. Ons moet God se goedheid in en rondom ons aanhoudend met kinderlike opgewondenheid najaag. Ons moet dit elke dag opnuut raaksien en daaroor jubel. Dan wen verwondering weer in ons harte. Dan vat verwondering die pad!

bottom of page