Vergewe jouself
top of page

Vergewe jouself


R T Kendal, ‘n voormalige pastoor van Westminster Chapel in London, vertel hoe hy gesukkel het om homself te vergewe, omdat hy sy gesin tydens hul verblyf in London verwaarloos het. Hy het sy werk voorrang bo sy tyd met sy familie gegee. Ook het hy nie sy belofte gehou dat hulle as gesin na sy studies aan Oxford sou terugkeer Amerika toe nie. Eers jare later, terug in Amerika, het hy besef dat hy kosbare familietyd verspil het.


So sit menige Christen met teleurstelling, verwyte en skuldgevoelens oor wat hul vroeër in hul lewe gedoen het, of nagelaat het om te doen. Daar is die vrou wat sukkel met ‘n herinnering aan ‘n aborsie. Of die Christen wat die “ondenkbare” gedoen het en in ‘n buite-egtelike verhouding betrokke geraak het en dit moeilik vind om haar- of homself te vergewe. ‘n Vriendin vertel dat sy haarself nie kan vergewe dat sy nie by haar pa se sterfbed was nie. Vasgevang in selfverwyt is dit moeilik om jouself te vergewe, veral wanneer jou foute ’n negatiewe impak op iemand anders gehad het.


In die Bybel is baie geskryf oor vergifnis, maar niks oor selfvergifnis spesifiek nie. Maar, soos met die vergifnis van ander, kom selfvergifnis uiteindelik uit ‘n diepe verstaan van God se kruisdood en vergifnis van my. Psalm 51 en Romeine 3:23 wys duidelik dat al ons verkeerde optrede in die eerste plek sonde teen God is.


Paulus het Christene genadeloos vervolg en Dawid was aanspreeklik vir die dood van Uria, na ‘n buite-egtelike verhouding met dié se vrou. Al lees ons nêrens dat hulle met selfverwyt of selfvergifnis gesukkel het nie, sien ons dat hulle God se genade en vergifnis vir hul sonde verstaan en hul eie gemaak het. Eerder as om te weier om hulself te vergewe, het Paulus en Dawid geredelik hulle sonde bely en God se vergifnis ontvang. Daarom kon hulle sonder skuldgevoelens en selfverwyte leef en vrugbaar in Sy koninkryk wees.


My standaarde vir ‘n goeie lewe is tog nie hoër as God s’n nie. Ek kan ook nie beter betaal vir my oortredinge as wat Jesus aan die kruis gedoen het nie. Ek sou myself elke dag kon kruisig oor wat ek verkeerd gedoen het, maar dit gaan geen verskil aan my situasie maak nie.


Ek kan eerder besluit om Jesus se soendood aan die kruis ten volle te aanvaar. Ek kan eerder fokus op en my verbly in God se liefdevolle genade, Sy skoonwas van my sonde met die bloed van Sy Seun. Ek kan eerder elke keer, wanneer ek wil begin tob oor my foute en sonde, myself herinner aan die wonder van Jesus se vergifnis en sommer hardop vir myself sê: “God het my vergewe – daarom vergewe ek myself.”


Romeine 8:1 “Daar is nou geen veroordeling is vir die wat in Christus Jesus is nie” – wie is ek dan om myself aan te hou veroordeel?!

© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page