top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Groei, dan leef jy


“A self that goes on changing is a self that goes on living,” het Virginia Woolf (1882-1941) jare gelede geskryf. Dit is vandag nog waar. Verandering is die hartklop van die lewe. Om passief te leef, is om stukkie vir stukkie afgestomp hier binne-in onsself te raak. Dit is om innerlik te stagneer. Dan wen verbeeldingloosheid en doodsheid in ons lewe. Dan loop ons gedurig op dieselfde uitgediende paaie in ons kop en in ons hart rond. Dan droom ons dieselfde holruggeryde nagmerries. Dan dink ons dieselfde flou gedagtes oor en oor. Dan praat ons dieselfde prate en dan stry ons gedurig dieselfde stryerye.


Om te groei, is om te verander. Ook op geloofsgebied moet ons voor die Here aanhou groei. Dit gebeur wanneer ons toeneem in liefde vir die Here, vir ander mense en vir onsself. Goeie kennis is altyd nodig vir die regte soort groei. Ek verwys na geloofskennis. Blote inligting alleen is nie genoeg nie. Kennis verander ons nie genoegsaam nie. Eers wanneer die regte kennis uitmond in insig en wanneer insig tot gevolg het dat ons meer deernisvol leef voor God en tussen ander, groei ons reg in ons menswees en in ons geloof. Dan leef ons nader aan ander en nader aan die Here. Dan is die woorde van 2 Korintiërs 4 waar van ons dat, al vergaan ons uiterlik, word ons nogtans innerlik van dag tot dag vernuwe.

Comments


bottom of page