Sien die Skepper in die skepping
top of page

Sien die Skepper in die skepping


Volgens 1 Konings 4 het Salomo “meer wysheid gehad as enigiemand anders”. Die skrywer beskryf dan in die volgende verse hoe die wyse koning oor bome, plante, die seders op die Libanon, die hisop, wat uit die mure groei en die diere, voëls, reptiele en visse gedig het. Salomo was duidelik in sy wysheid naturalisties intelligent en het groot belangstelling en insig in die werking en misterie van die Skepper en skepping getoon. Hy het ook verskeie male na die natuur in Spreuke verwys. Dink maar aan sy teregwysing in Spreuke 6, waar hy luiaards stuur om by miere te gaan leer.


Naturalistiese intelligensie is een van die nege tipes intelligensie, wat deur die sielkundige, Howard Gardner, in sy teorie van meervoudige intelligensies beskryf word. Hy is van mening dat intelligensie nie net aan intellektuele vermoëns gemeet moet word nie, maar dat verskillende mense op verskillende vlakke intelligent is.


Mense, wat naturalities intelligent is, beskik blykbaar oor die vermoë om die natuurlike wêreld te ondersoek, te verstaan en te waardeer. ʼn Goeie voorbeeld is die Duitse bioloog, kunstenaar en filosoof, Ernst Haeckel (1834-1919), wat bekend is vir die duisende spesies, wat hy ontdek, beskryf, benoem en geïllustreer het.


Moet ʼn Christen nie dalk van nature naturalisties intelligent wees nie? Die mens is die kroon van die skepping en as rentmeesters oor die natuur aangestel. Ons aanbid immers die kreatiewe, almagtige Skepper en kan doodeenvoudig nie anders as om Sy skepping te bestudeer, te waardeer en op te pas nie!


Verder is daar soveel te leer by die verskillende skepsels en ook, bo alles, die Skepper. Om die waarheid te sê, leer ons die Skepper beter ken deur na die werke van Sy hande te kyk. Net die gedagte dat daar oral om ons lewe is, is ʼn sprekende bewys van Sy kreatiewe almagtigheid. Geen mens kon nog ooit lewe uit niks voortbring nie.


Verder word God se almag, wysheid, kreatiwiteit en krag dikwels in die Bybel met verwysing na die skepping verduidelik. Dink maar aan die kragtige beskrywings in Jeremia 10:12-15 en die skeppingspsalms, onder andere Psalm 19, 29 en 104. Paulus skryf ook in Romeine 1:20 dat die mens uit die natuur en God se werke kan aflei dat Sy krag ewigdurend en absoluut is en dat Hy waarlik God is.


Die hele skepping sien immers saam met ons in gespanne afwagting uit na die wederkoms en met goeie rede: God het ʼn belofte van hoop gegee en dit is nie net die mens se verganklikheid wat tot ʼn einde sal kom nie, maar ook dié van die res van die skepping (Romeine 8).


“Marana ta – kom, Here!”  

bottom of page