Vergeet van ontruiming
top of page

Vergeet van ontruiming


Lees Matteus 10:38


Die Gees van God is nie tans besig met ‘n groot aardse ontruimingsaksie om ons hier weg te kry nie. Sy doel is nie om ons elkeen, wat voor Christus buig, so gou as moontlik uit die wêreld te kry nie, maar om die hemel juis hier tussen ons op aarde te laat grond raak. Die beste plek in die hemel is nou op aarde. Die Gees het God se koninkryk na ons toe gebring sodat ons juis hier en nou volspoed vir God kan leef. Nie een van ons is geroep om pad te gee uit die wêreld en by een of ander geestelike lughawe passief te wag op die volgende vlug na die hemel toe nie. Ons is regtig nie vlugtelinge uit die wêreld of permanente asielsoekers by die hemelse deure nie.


Jesus vra van ons om dag vir dag hier op aarde besig te wees om goed te doen aan ander. Daarvoor het Hy Sy Gees aan ons gegee om elke dag ‘n verskil van een te wees. Hy wil hê dat ons Sy Vader se wêreld moet vul met die geur van deernis en ontferming. Hy wil hê ons moet besig wees om ander op die hande te dra en hulle met omgee te behandel. Ons moet in Sy wingerd aan die werk wees totdat Hy ons op die regte tyd kom haal.


Gebed:

Keer dat soveel van U kinders wegkruip in geestelike bomskuilings wegkruip. Laat ons aanmeld vir diens. Amen.

bottom of page