top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Vanaf geraasbesoedeling tot musiek vir ander se ore


Almal praat deesdae oor lugbesoedeling en waterbesoedeling. Onlangs het ek ’n vreemde ander vorm van besoedeling beleef. Dit was naamlik toe iemand in ’n ry voor my by die lughawe homself vervies het vir ‘n personeellid, wat blykbaar te hard met haar kollega gesels het. Kliphard het hy vir haar verduidelik sy pleeg geraasbesoedeling, of “noise pollution”, soos wat hy dit in Engels genoem het. Bygesê, ons almal was verstom oor die man se klipharde vermaning. “Van geraas tot geraas,” het ek by myself gedink.


Wanneer gebeur geraasbesoedeling? Is dit wanneer mense se harde stemme ander rondom hulle irriteer? Of gaan dit eerder oor die inhoud van hulle harde gesprekke? In openbare ruimtes kan jy immers nie anders as om te hoor wat mense naby aan jou vir mekaar sê nie. Die ooglopende oplossing is sekerlik om sagter te praat. Ek bedoel dit nie net volumegewys nie, maar ook inhoudsgewys. Want ek moet sê, ek het al baie gesprekke ongevraagd aangehoor, wat eintlik nie in die openbaar gepas was nie.


Ek herinner myself gereeld daaraan dat die Bybel ons oproep om ons woorde in toom te hou. Die heel beste manier hoe om dit te doen, is om die Here se wysheid betyds op te soek, voordat ons elke dag begin praat. Ons moet elke oggend vir Hom vra om ons daaglikse porsie woorde opbouend te maak, om alle goor woorde betyds te keer voordat dit ons lippe verlaat. Dan moet ons ook deur die loop van die dag die Heer se wysheid aanhoudend gebruik, terwyl ons al ons prate praat. Wanneer ons elke dag só leef en praat, veroorsaak ons woorde nie geraasbesoedeling nie. Dan is dit musiek vir ander se ore. Dan is dit opbouend.


Onthou: wanneer die Here se wysheid in ons lewe wen, wen nuwe woorde op ons tong.

Comments


bottom of page