Die bokshandskoene vir die hemelse bokskryt is weggepak
top of page

Die bokshandskoene vir die hemelse bokskryt is weggepak


“God het die verkeerde persoon uitgesoek vir ’n geveg met Homself.” Dit het iemand op sosiale media kwytgeraak, toe hy vir God aangevat het. Die meeste mense, wat sulke mondgevegte met die Here aanknoop, ken Hom nie regtig nie. Hulle veg teen ’n karikatuur. Sulke veglustiges beskou God as ’n tipe “Bruce Almighty”, soos wat Hy uitgebeeld word in die 2003 film met dieselfde naam. In hierdie film, waarin Jim Carrey en Morgan Freeman die hoofrolle speel, word God juis voorgestel as ’n hemelse diensverskaffer, wat mense se behoeftes op hulle eie terme moet aanspreek. Wat ’n karikatuur van God! Wel, hier is ’n paar Bybelse feite:

  • God is nie aan die stuur van ‘n godsdienstige eenstopdiens in die hemel nie. Hy staan nie van vroeg tot laat gereed om almal hier op aarde se wense en begeertes op aanvraag aan te spreek nie.

  • Ons het nie die reg om gedurig die Here se prestasies te meet nie. Ons het nie die reg om ooit te besluit dat Hy darem nog goed genoeg is om aanbid te word net omdat Hy ons gebede verhoor het, soos wat ons aan Hom voorgeskryf het nie.

  • Feit: ons is nie die Here se raadgewers nie. Nog minder is ons Sy aardse direksie aan wie Hy moet verslag lewer. Ons as gelowiges dien die Here, soos wat Hy Homself in Christus bekendgemaak het. Jesus leer ons dat God ons Hemelse Vader is. Hy ontferm Hom oor ons. In elke donker dal en op elke groen weiveld is die Here ons herder. Hy sal vir ons gee wat ons nodig het op Sy tyd. Ons het nie nodig om in boksgevegte met God betrokke te raak nie. Daardie geveg is lankal oor en verby. By die kruis is die bokshandskoene vir altyd weggepak.

bottom of page