Vlug reg as jy die slag moet!
top of page

Vlug reg as jy die slag moet!


“Ek het niks om weg te steek nie,” sê iemand in ’n film. “Jy is gelukkig,” antwoord iemand anders, “want almal steek iewers ’n paar geheime weg.” Dit het my herinner aan ’n verhaal, wat op 16 Junie 1901 in die Washington Post verskyn het. George D. Aldrich het hier ’n storie gedeel wat hy by Arthur Conan Doyle gehoor het. Conan Doyle het een keer vir sy vriende gesê almal het teen ouderdom 40 'n geraamte in die kas. Toe besluit hulle om hierdie stelling te toets. Hulle het 'n naamlose brief aan 'n gerespekteerde man gestuur met die woorde: “All is discovered. Flee at once.” Toe laat spaander daardie man. Niemand het weer van hom gehoor nie.


Ons elkeen het knikke in ons verlede. Iewers langs die pad het ons almal dinge gesê of gedoen wat ons nie moes nie. Miskien is dit hoekom Oscar Wilde opgemerk het: “The only difference between the saint and the sinner is that every saint has a past and every sinner has a future.” Daarom, as ons dan die slag moet vlug, is die beste opsie om na Christus toe te hardloop. Nee wag, dit is ál opsie! Hy hou nooit boek van daardie geraamtes in ons kas nie. Hy hou niks teen ons nie. Die Here is altyd genadig.

bottom of page