Praat reg namens God
top of page

Praat reg namens God



Die reg om namens God te praat, het indiwidue nog altyd deur die geskiedenis op hulle skouers geneem. Profetiese figure, wat alleen teenoor die ganse samelewing staan met ‘n sterk woord van die Here se kant af, is bekend in die Ou Testament. Om God se stem te wees, is egter ‘n moeilike saak. Dit is meestal ‘n tipe “teenoor”- posisie. God en Sy profeet, wat staan teenoor die massa; die hemelse spreekbuis teenoor vals stemme. Maar wie mag namens God Sy saak stel? In die Bybel is hierdie vraag dikwels aan die orde.

Vir die profeet Jeremia is die antwoord duidelik: elkeen wat namens God praat, se woorde sal waar word. Jy hoef nie duisende jare hiervoor te wag nie. Nee, sommer nog in daardie profeet se eie tyd; daar rondom jou sal jy sien of dit wat hy of sy namens God gesê het die waarheid is. Paulus is op sy beurt versigtig vir selfaangestelde spreekbuise van God. Toets elke “stem van God,” is sy advies aan die kerk in Tessalonika. Moenie alles sluk wat in die Here se naam na jou toe kom nie. As jy afgterkom die sprekers se woorde strook nie met God se wil nie, dan moet jy hulle maar ignoreer.

Wanneer God jou toerus as ‘n profetiese stem, dan rus daar ‘n dure verantwoordelikheid op jou skouers. Dan moet jy sê wat God sê. Niks meer of minder as dit nie. Hoe gehoorsaam is jy?


Gebed:

Here laat u profete die volle waarheid praat, asseblief. Amen.

bottom of page