Staan in die Wind, die regte Een
top of page

Staan in die Wind, die regte Een


Pinksterdag was glad nie windstil nie. Alles behalwe. Op daardie dag het die Heilige Gees se magtige wind teen stormsterkte in Jerusalem begin waai. Hierdie wind het al die gelowiges, wat daar bymekaar was, getref, soos wat Handelinge 2 vertel. Dadelik het hierdie groepie mense, wat deur die Gees se wind en vuur vervul is, vreesloos oor God se groot dade begin praat. Hulle eie tonge het in ’n oogwink losgeraak. Hemelse krag, daardie soort waaroor die Ou Testamentiese profete vir jare lank geskryf en gedroom het, was meteens in oorvloed beskikbaar - krag om te getuig, te sing, te dien en wonders te laat gebeur!


Die Gees se hemelse wind waai vandag nog. Sy krag is nie minder beskikbaar hier in 2022 as op daardie eerste Pinksterdag nie – dit is maar net onsself, wat Sy krag inperk. Daarom is dit hoog tyd dat die hemelse wind weer teen volle sterkte begin waai. Kom ons span vandag ons seile na die Wind - die Hemelse Wind van die Gees! Kom ons laat opnuut toe dat Hy ons met Sy krag vervul. Kom ons stel ons lewens oop vir Hom. Dan sal ons weer begin praat en jubel oor ons groot God. Dan sal hemelse krag in ons lewens wen.

bottom of page