So lyk die lewe van ’n geseënde
top of page

So lyk die lewe van ’n geseënde


Die Here se seën op Sy kinders se lewe bring ook seën vir almal rondom hulle, soos wat Genesis 39:1-5 vertel. Hier hoor ons hoe Potifar, die hoof van die spesiale magte van die Farao, vir Josef as slaaf gekoop het. Omdat die Here by Josef was, het dit baie goed met hom in die huis van sy eienaar gegaan. Potifar het ook opgemerk die Here is by Josef. Toe het hy vir Josef oor sy hele huishouding aangestel. Van toe af het die Here die huis van die Egiptenaar geseën. Die seën van die Here het gerus op al Potifar se besittings, dié in sy huis en dié in die veld. Praat van invloed! Gelowiges, wat binne die wil van God leef, se blote teenwoordigheid is alreeds vir ander ’n seën.


Om ’n geseënde van die Here te wees, beteken egter nie ’n lewe van maanskyn en rose nie. Inteendeel. Josef se lewe draai suid, wanneer mev. Potifar nie haar hande van hom kan afhou nie. As hy weier om toe te gee, verdraai sy die feite. Die gevolg? Genesis 39:19-20 vertel dat Potifar vir Josef in die tronk gegooi het. Dit is die prys wat Josef se integriteit hom kos. Omdat hy nie bereid was om in sonde te leef of sy beginsels prys te gee nie, betaal hy ’n duur prys. Maar die Here los hom ook nie alleen in die tronk nie.


Die mooiste getuienis oor Josef se lewe is die woorde: “Die Here was by Josef.” God was by hom in ’n vreemde land waar vreemde afgode aanbid is. Nogtans was Josef getrou aan die Here. Hy het met integriteit geleef, al het dit hom sy vryheid gekos. Hy het geweet God is by hom. Dit geld vandag nog. God is steeds dieselfde. Hy het nie verander nie. Hy seën Sy kinders met Sy teenwoordigheid, waar hulle ook al is en binne watter omstandighede hulle hulleself ookal bevind. Daarom leef Sy geseëndes altyd met integriteit. Jy moet asseblief dieselfde doen. Leef so dat almal sal sien die Here is by jou.

bottom of page