Geestelike intelligensie
top of page

Geestelike intelligensie


Lees 1 Korintiërs 14:40


Gepas en ordentlik - dis die vereiste wat Paulus stel vir alle byeenkomste van gelowiges. Nee, Paulus is nie teen die vrye werking van die Heilige Gees nie, maar hy laat ook nie toe dat selfsug in die naam van godsdiens die oorhand kry nie.


‘n Belangrike gawe om te hê ten einde te weet wanneer eersug triomfeer oor ‘n opregte soeke na God se eer, is die afgeskeepte gawe van onderskeiding, of in eietydse taal gesê, geestelike intelligensie. Hierdie gawe het te make met die vermoë om tussen egtheid en onegtheid te onderskei. Geestelike intelligensie loop hand-aan-hand met ‘n gesonde selfinsig in jou eie talente en met ‘n innerlike vrede oor wie God jou in Christus gemaak het. Hiermee saam bring dit die regte sensitiwiteit vir ander se gevoelens en opinies. Mense met geestelike intelligensie is in staat om goeie verhoudings te handhaaf, omdat hulle goeie luisteraars is en ander altyd met die nodige respek behandel. Wanneer jy geestelik intelligent is, dan hoef jy jouself nie heeltyd te bewys teenoor ander nie. Dan is jy ook nie gedurig in subtiele kompetisies met ander betrokke ten einde jou eie geestelike voortreflikheid te bewys nie. Inteendeel, dan leef jy nederig en binne die raamwerk van die geestelike gawes, wat die Heilige Gees aan jou toebedeel het. Dan leef jy gepas en ordelik, sonder om onnodige aanstoot aan enigiemand te gee.


Gebed:

Here Jesus, maak my geestelik intelligent sodat ek nooit ‘n onnodige aanstoot vir enigiemand sal wees nie. Amen.

bottom of page