Staan by Hom
top of page

Staan by Hom


Lees 1 Korintiërs 1:27


Die gewilde “godsdienstige” waardes in ons dag is skuldgevoelens en relativisme. Skuldgevoelens? Ja, amptelike godsdiens is vandag in die beskuldigdebank oor min of meer alles vanuit die verlede. Noem jy dit, dan moet die kerk ekskuus sê, omdat hy / sy gister en eergister verkeerd daaroor gedink het. En relativisme? Wel, vandag moet daar ruimte wees vir almal om te glo wat hulle wil. Mense, wat nie wil aanvaar dat Jesus fisies uit die dood opgestaan het nie, moet blykbaar ewe tuis in die kerk wees as diegene, wat dit glo.


Een ding, wat ek nie verstaan nie, is dat mense, wat so wegskram van Bybelse waarhede, g’n probleme het met dinge, wat elders in die samelewing vas geglo word nie. Ek meen, sluit jy by ‘n skaakvereniging aan, dan is daar duidelike reëls. Stem jy nie hiermee saam nie, dan is dit skaakmat nog voordat jy ‘n skuif gemaak het! Maar wanneer jy agter die Gees aan bely Jesus is die opgestane Here en wanneer jy saam met ander gelowiges dit nederig waag om te sê dat daar binne die kerk iets is soos reg en verkeerd (let wel: binne die kerk en vir die kerk!), dan is dit skielik liefdeloos. Wel, moenie val vir hierdie truuks nie. Jy leef vir ‘n nuwe Heer met nuwe waardes. Staan by Hom, al doen jy dit alleen. Dis juis ‘n waarmerk van egte geloof om soms stroomop te glo.


Gebed:

Laat my staan by U en vir U, Here Jesus. Amen.

bottom of page