Onbedreigd
top of page

Onbedreigd


Lees 1 Korintiërs 5:12


Ons leef in ‘n tyd waar verdraagsaamheid die wagwoord is en waar die waarheid altyd ‘n paar ekstra kante het. Nou ja, wanneer die Gees in ons lewens werk, is ons nie bang vir ander opinies nie. Ons word nie uit ons geloof geskud elke keer wanneer iemand die Christendom aanvat, of wanneer ateïste hulle ongeloof in ons omgewing bely nie.


Volgelinge van Christus is nie blind vir dit, wat in die wêreld gebeur nie. Maar ons vra ook nie verskoning vir ons reg om Jesus se mense te wees nie. Net soos wat elke instelling bepaalde reëls en beginsels het, het die kerk sekerlik ook die reg om openlik te sê waarvoor ons staan en om duidelike leefreëls vir gelowiges neer te lê, wat uitdrukking gee aan ons navolging van Jesus. Ons hoef daarom nooit skaam te wees vir ons belydenis dat Jesus die opgestane Here is, of met ‘n ekskuus-dat-ek-leef-houding deur die lewe sluip nie.


As nie-gelowiges dit die slag regkry om ons geloofsvere te skud, dan bou ons moontlik op die verkeerde fondamente. Onthou, ons geloof word deur Christus se werk gewaarborg, nie deur ons omstandighede of deur die tydsgees van ons dag nie. Die Gees maak ons vry sodat ons glad nie bedreigd is, wanneer ons te midde van vreemde stemme op die markpleine van die lewe leef en werk nie.


Gebed:

Here, laat die waarheid, wat in my binneste is, my vrymaak. Amen.

bottom of page