Meer as oppervlakkige kennis gevra
top of page

Meer as oppervlakkige kennis gevra


Lees 1 Korintiërs 1:5


Om maar net klakkeloos te sê die Bybel is God se Woord, is lankal nie meer genoeg nie! Dit was inderwaarheid nog altyd onvoldoende. Sulke belydenisse moet keer op keer opgevolg word met die regte kennis van daardie einste Woord, wat die hartklop van die Christelike geloof vorm. Jy en ek moet self weer ontdek dat die Christendom nie gebou is op naïewe waarhede, wat deur primitiewe mense geglo is nie. Hulle geloof was ook nie net ‘n gewaagde sprong in die donkerte nie. Ware geloof en egte groei vra ‘n nuwe, verantwoordelike terugkeer na die Bybel toe. Dit is immers die Gees se lewende wapen, waarmee Hy ons in die volle waarheid lei.

Ware geloof vra ook ‘n transformasie van die samelewing op grond van ons radikale navolging van die Man van Nasaret. Jy en ek moet van voor af ontdek Jesus is nie maar ‘n strokiesprent held, wie se verhale jy in een of ander boek of film meemaak nie, maar inderdaad die Een, wat jou in aanbidding aan sy voete laat neerval en agter Wie jy aanstap op soek na stukkendes en verontregtes. Jy moet kwistig saam met Jesus lewende water en gewone water aan ‘n dorstige wêreld uitdeel. Die wekroep is vandag vir ‘n ware verandering van die ganse lewe. Dis hier waar die Gees se werk inkom. Laat Hom vandag toe om dit in jou lewe te doen.


Gebed:

Here, bring ‘n nuwe liefde vir die Bybel in my lewe in. Amen.

bottom of page