Soek verder!
top of page

Soek verder!


Lees Psalm 37:6


Wat moet jy doen as jy die dag jou werk verloor? Of as jy die hoeveelste slagoffer van nog ‘n misdaad is? Dan help goedkoop praatjies nie. Ook nie liggewig troos nie. Nou die dag vertel iemand my juis dat sy moeg geprobeer is aan al die troos wat almal tans aan haar uitdeel, want net mooi niks werk nie. Toe besef ek net weer eens hoe versigtig ek moet wees om “antwoorde” te gee.


Daar’s ‘n beter weg as antwoorde op al die waaroms, wat jy vra: God! Nee wag, Hy is nie die antwoord op elke vraag nie. Ja, jy’t reg gelees. God is, met respek gesê, nie die kitsantwoord op elke pyn, vraag en worsteling nie. MAAR, hoor nou mooi: Hy is die antwoord vir elkeen, wat na Hom soek. Hy sal Homself laat vind deur elkeen wat dors na Sy spesiale teenwoordigheid. Die Here gee rus vir elke moeë soeker. Nee, God gee nie aldag antwoorde op ons waaroms nie, maar Hy gee wel rus! Ook vir jou met al jou seer. Hou maar net aan soek. God kruip nie weg nie. Hy sal Hom laat vind! Sy Heilige Gees het jou naam en adres. Hy het die ruitverwysings van jou lewe. Nooit sal jy buite God se visier wees nie. Nie vir een enkele dag sal Hy jou op jou eie laat nie. Jy is net te kosbaar!


Gebed:

Ek soek U of God. Ek dors na U. Hoor my aan in Jesus se Naam. Amen.

bottom of page