Oog op die regte Pad, asseblief!
top of page

Oog op die regte Pad, asseblief!


Lees Psalm 37:5


Gister het ons stilgestaan by belangrike riglyne vanuit Psalm 37 om kommer uit ons harte te weer. Die rede is voor die hand liggend: bekommernis is een van die grootste en mees onderskatte geloofsdiewe in die vyand se arsenaal. Te veel gelowiges meen nie juis dat bekommernis so ernstig is soos byvoorbeeld sondes, soos owerspel en diefstal nie. Maar die ware feit is dat dit ewe lewensverwoestend is. Bekommernis is ‘n ras-egte geloofsrower! Dit is ook ‘n Geesblusser. Daarom het Dawid reeds eeue gelede nog ‘n belangrike beginsel met ons gedeel om kommer uit te knikker. Hy sê: Plaas jou lewe elke dag in die Here se hand. Glo in Hom; Hy sal jou op die regte pad hou.” (Vers 5 - 6)


Meld daagliks vir aktiewe diens by die Here aan. Vertrou God blindelings om jou lewe elke dag op Sy regte pad te hou. Moenie een enkele dag vrye teuels aan negatiewe emosies gee nie. Onthou, hulle groei soos onkruid! Oornag neem hulle jou lewe oor. Kort voor lank druk hulle alle hoop by die agterdeur van jou hart uit. Voordat jy “mes” kan sê, is jou beste vriende dan hopeloosheid en klein geloof. Daarna moet die Heilige Gees tweede viool speel. Daarom moet jy jou hart bewaak. Daarom moet jy weier dat donkerte oor jou gedagtes toesak. Dit maak alles binne-in jou stikdonker!


Gebed:

Heilige Gees, bewaar die ingang en uitgang van my hart. Amen.

bottom of page