So glo jy mooi in Babilon
top of page

So glo jy mooi in Babilon


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Goeie Nuus nuusbrief oor hoe 1 Petrus ons help as ons in Babilon woon.
So glo jy mooi in Babilon

As daar een boek in die Bybel is wat gelowiges moet ken in hierdie tyd, dan is dit 1 Petrus. Hierdie brief is geskryf aan gelowiges wat baie swaar gekry het in 'n nie-Christelike wêreld. Boonop vertel Petrus in 1 Petrus 5:13 dat hyself in Babilon is. Dit is die skuilnaam vir Rome onder gelowiges in daardie tyd. Nou ja, in Babilon is die kerk irrelevant. Dit is eintlik net ’n groot irritasie vir buitestaanders. Hier gee niemand om of jy glo, of nie. En as jy glo, gaan dit jou duur kos... jou vriendskappe, jou werk, en selfs jou lewe is dan op die spel.


Hoe gemaak as jy in Babilon bly? Hoe leef jy hier vir die Here? Wel, dan doen jy wat Petrus skryf: Jy weet heel eerste wie jy is in die Here. Hy skryf in 1 Petrus 2:9-10 dat ons moet weet ons is God se koninklike priesterdom. Ons is sy kosbare nuwe volk. In God se oë is ons waarde onberekenbaar hoog. Aan die ander kant is ons vreemdelinge en onbekende indringers in Babilon, soos wat hy ook skryf in 1 Petrus 2:11. Dus, in God se oë het ons ewige waarde, maar in Babilon se oë het ons geen waarde.


Tweedens moet ons reg leef en goed doen in die Here se Naam. In 1 Petrus 2:12 som Petrus ons optrede tussen nie-gelowiges op met een woord: GOED! Dan sal hulle ons goeie werke raaksien, ook al praat hulle kwaad van ons. Nog ’n keer sê hy in 1 Petrus 2:15 dat ons moet goed doen. Boonop verbind Petrus dit hier direk met God se wil. So sal ons dan ’n einde bring aan al die kwaad wat mense uit onkunde praat. God se wil gebeur in Babilon wanneer Sy kinders goed doen aan ander. Wat bedoel Petrus met goed doen? Wel hy verduidelik dit in 1 Petrus 2:17: Respekteer alle mense. Wees lief vir medegelowiges. Vrees God. Respekteer die keiser.


Daar het jy dit. In Babilon is jy nie bekend vir alles waarteen jy is nie. Of vir al jou ontsteltenis oor die nuutste sondes op die mark nie. Nee, hier is jy bekend vir goed-doen en vir die respek wat jy aan ander mense bewys. Hier gee jy die aangename geur van Christus af.


Wel, waarvoor staan jyself tans bekend?

bottom of page