Die Beatles
top of page

Die Beatles


Die Beatles het verlede jaar geskiedenis gemaak.

 

Ons praat van John Lennon, Paul McCartney, George Harrison en Ringo Starr. As jy ietsie van die Beatles af weet, sal jy waarskynlik nou nuuskierig wees oor hoe so iets moontlik kan wees. John Lennon en George Harrison is immers beide lank reeds oorlede. As jy baie van die Beatles af weet, glimlag jy waarskynlik nou, omdat jy weet watter vindingryke ding hulle gedoen het.

 

Hierdie musiekgroep het op 2 November 2023 ʼn interessante nuwe lied uitgereik: “Now and Then.” Al vier die oorspronklike lede van die groep sing of speel op die lied. John sing en George speel kitaar. Hoe het hulle dit gedoen?

 

John Lennon het destyds reeds aan hierdie lied geskryf. Die basiese idees is op kasset opgeneem, maar die klavierbegeleiding se kwaliteit was baie swak. Daar was onder andere ʼn lelike gebrom van die elektroniese klavier wat nie uitgehaal kon word nie. In 2001 het die oorblywende lede probeer om die lied op te neem, met John se stem saam met hulle. Dit wou net nie werk nie. George se kitaarlopies is in daardie tyd mooi opgeneem.

 

Met die ontwikkeling van tegnologie, het dit weldra moontlik geraak om John se stem digitaal van die res van die musiek vanuit die swak opnames te isoleer. Rekenaars het die moontlikheid oopgemaak om dié sanger se oorspronklike idee mooi skoon uit te kry. George se kitaaropnames van 2001 is nadergetrek. Paul het verder aan die lied geskryf. En so is die nuwe lied uiteindelik netjies, skoon en vars uitgereik. Die lirieke gryp jou verbeelding aan, want dit vertel ook op ʼn manier die musiekgroep se storie. Dit voel vreemd om John se stem en George se kitaar in die lied te hoor.

 

“Now and Then” vertel ook vir my die storie van ons geloof. Vir eeue lank al praat God met ons deur profete en deur Christus self. Noú, in Lydenstyd, dink ons weer aan Jesus se lydensweg en dit wat Hy ons kom leer het. Ons geskiedenis en menslike verhale sit soms ʼn lelike bromgeluid by die oorspronklike inhoud van Christus. Ons lewens sit geraas by die evangelie en maak dit soms lelik. Dink net: as sagteware dit moontlik maak om nuwe musiek met ʼn oorlede mens se stem te maak, watter moontlikhede sluit die Gees van Christus vir ons oop? Ons kan nuut en vars weer die boodskap van Christus se kruis en leë graf bring, soos wat Hy dit bedoel het. Ons glo tog in die “gemeenskap van die heiliges”. Saam met almal voor ons en almal na ons, getuig ons van Jesus, die Gekruisigde.

 

Here, maak die lied wat ons van U sing, skoon. Maak die bromgeluide van ons eie feilbare menswees sagter, sodat ander U mooier en duideliker in ons lewens kan hoor. Amen.

bottom of page