Om te beheer of om nie te beheer nie
top of page

Om te beheer of om nie te beheer nie


Sommige skrywers en wysgere in die samelewing het soveel insig en wysheid oor die lewe dat ‘n mens byna nooit sal ophou om by hulle te leer nie. Een so ‘n skrywer is sekerlik JRR Tolkien. Hy, wat natuurlik self ‘n gelowige mens was, het sy Godgegewe wysheid op ‘n gewone, dog dramatiese manier in die stories, wat hy vertel het, oorgedra. Die bekendste hiervan is natuurlik The Lord of the Rings. Die storie word as ‘n fantasie vertel en handel onder andere, oor ‘n klein mensie, Frodo Baggins, wat die bose magsirkel (ring of power) al die pad moet dra na die plek waar dit geskep is en dit dan vernietig. Die vernietiging van die ring kan slegs plaasvind, indien hy self die ring al die pad na ‘n vulkaniese berg met die naam Mount Doom dra. Die ring moet dan hierin gegooi word sodat alle boosheid finaal vernietig kan word en ‘n nuwe era van vrede in die land bewerk kan word. Al drie die boeke beskryf dan in detail en met baie opwindende en uitputtende avonture hierdie moeisame pad, wat Frodo moet stap, darem saam met ‘n groepie getroue vriende.


Op ‘n stadium in die storie, nadat Frodo die ring al lank gedra het en amper by ‘n plek van moedeloosheid en hopeloosheid gekom het, deel hy sy emosies met sy wyse mentor en vriend, Gandalf.


I wish the ring had never come to me. I wish none of this had happened.

Hierop antwoord Gandalf dan met baie empatie sowel as wysheid:


So does all who encounter such times. But it is not for them to decide. What you have to decide, is what to do with the time that has been given to you.

So ‘n kort sinnetjie en met tog soveel insig en lewenskennis!


Eerstens herinner dit ons aan hoe ons soms voel. So dikwels slaan die lewe net te hard, beleef ons die storm is net te sterk, ons omstandighede is net te oorweldigend, die situasie net te hopeloos. Ons hoef nie skuldig of sleg te voel dat ons soms so voel nie. Die lewe is immers nie altyd maklik nie.


Dan herinner Gandalf ons egter daaraan dat ons in goeie geselskap is. Sy woorde, So does all who encounter such times, laat ons darem voel dat ons nie alleen ly nie. Ons is in goeie geselskap. Niemand pik noodwendig op ons nie. Dis hoe die lewe is. Kyk maar na die wêreld en na die geskiedenis. Die lewe was nog altyd gebroke en stukkend. Ons kan dikwels niks aan ons eie eksterne omstandighede doen nie. Beheer is ‘n illusie. Ons beheer nie die lewe nie.


Tog is die lewe ‘n gawe. What you have to decide is what to do with the time that has been given to you. Tyd is vir ons gegee. ‘n Betekenisvolle lewe is aan ons geskenk. En ons beskik oor nog iets: die Godgegewe vermoë om te besluit oor die deel wat aan ons gegee is. Ons het geen lewensbeheer nie. Maar ons kan besluit om ons denke, hart en lewe onder die heerskappy van Jesus en die Heilige Gees te stel. Soos iemand een keer vir my gesê het: Do what you can, not what you can’t. Wat ons kan doen, is om ons oë op te lig na die hemel en na ons lewe en omstandighede deur die bril van Jesus te kyk. By Hom vind ons die anker op ‘n rowwe see. By Hom vind ons die heling, wanneer dinge stukkend en gebreek rondom ons lê. By Sy kruis kry ons die vermoë om te volhard. By Sy opstanding kry ons hoop vir die toekoms en ook die versekering dat die son altyd weer sal deurbreek.


Dankie, Jesus, dat U vir ons gekom het. Dit maak al die verskil in die wêreld!

bottom of page