Selfgesprekke – hoe beheer ek dit?
top of page

Selfgesprekke – hoe beheer ek dit?


Selfgesprekke – hoe beheer ek dit?

“Wees versigtig wat jy dink. Jou denke kan jou lewe ingrypend beïnvloed.” Spreuke 4:23, Die Boodskap


Ek het persoonlik gevind dat “self-talk”, hierdie voortdurende gesprekke, wat ek met myself voer, my emosies en uiteindelik ook my gedrag beïnvloed. Salomo sê nie verniet nie: “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” (Spreuke 4:23, Afr. 83-vertaling) Wat ek vir myself sê, gaan ook my optrede bepaal. Selfgesprekke is natuurlik selde neutraal; my gedagtes wentel so dikwels om ‘n negatiewe kern en minder dikwels om ‘n positiewe, opbouende kerngedagte.

Dis belangrik om myself af te vra: Wat is die hooftema van my selfgesprekke? Is dit positief en opbouend? Of is ek besig om daarmee ‘n stuk ongelukkigheid of onverdraagsaamheid aan te wakker? Word ek in die oggend wakker met ‘n lofprysing op my lippe? Of het ek reeds myself oortuig dat my huwelik of werk die slegste ding is wat my ooit getref het? Is my selfgesprekke gebaseer op Bybelse waarhede of op my eie skewe persepsies, soos “Ek is nie so talentvol soos XXXX nie”? My gesprekke met myself (soos in alle ander gesprekke) kan my so maklik laat struikel, as dit nie onder beheer van die Heilige Gees is nie.


Wat ek in my stiltetyd by die Here leer, behoort my selftaal en optrede, wat daaruit voortvloei, te bepaal. In Romeine 12 vers 2 moedig Paulus my aan om God toe te laat om my te verander deur my denke te vernuwe, my gedagtes te herprogrammeer. Dit doen Hy wanneer ek gereeld tyd aan persoonlike Bybelstudie spandeer en my gedagtes en gevolglik my optrede daarop bou. Dit is waar ek eerlike selfondersoek doen, my gevoelens en omstandighede in Sy lig begin sien. Daar verander Hy my vertwyfeling en ongelukkigheid in lofprysing en dankbaarheid. Dan luister ek nie meer na negatiewe selfspraak nie. Soos Dawid in Psalm 42 en 43 kan ek dan ook sê: “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied sing.Hy is my helper en my God! (Afr. 83- vertaling)


Ek gaan egter self verantwoordelikheid vir my negatiewe selfspraak moet aanvaar. Ek gaan elke gedagte gevange moet neem, soos Paulus ons in 2 Korintiërs 10:5 aanraai: “Elke gedagte, wat deur ons koppe gaan, neem ons gevange en lewer dit aan Christus uit. Ons dink slegs wat Hy wil hê”. (DB) In plaas daarvan dat ek toelaat dat my selfgesprekke om myself, my gebreke, ander se opinies en húlle gebreke draai, kan ek eerder fokus op God en Sy oorvloedige liefde vir my.


Vriende, ek wil vir julle nog iets sê. Julle moet altyd dink aan die dinge, wat waar is, wat mooi is, wat reg is, wat rein is, wat pragtig en goed is. Ja, julle moet dink aan alles wat mooi is, alles waarop 'n mens trots kan wees.” (Filippense 4:8, Bybel vir Almal)

bottom of page