RARE leiers is, wel… raar!
top of page

RARE leiers is, wel… raar!


In hierdie Leierskap Nuusbrief skryf Roedolf Botha en Ivor Swartz oor 4 eienskappe van 'n RARE leier.
RARE leiers is, wel… raar!

Daar bestaan vandag talle bronne wat die effektiwiteit van leiers meet. Hierdie effektiwiteit hang ook natuurlik af van die tyd waarin ‘n mens leef en wat werklik nodig is in elke fase van die geskiedenis. Vanaf die begin van Modernisme was daar baie klem gelê op die oordrag van inligting. Leiers was mense met die regte kennis. Later was die fokus op resultate en aanspreeklikheid weer in die mode gewees. Die laaste klompie jare is daar geweldig klem gelê op emosionele intelligensie en verhoudings. Outeurs soos Daniel Goleman, Claude Steiner en Peter Salovey het ons baie stof tot nadenke gegee in verband met intelligensie in ons verhoudingswêreld. Emosionele intelligensie is die een enkele eienskap wat effektiewe leiers gaan kenmerk in die 21ste eeu. So word daar gepraat.


In ‘n eenvoudige nuwe boekie getiteld RARE Leadership, identifiseer Marcus Warner en Jim Wilder vier ongewone gewoontes wat lei tot ‘n effektiewe leierskapspan met hoë emosionele- en verhoudingsintelligensie. Hierdie vier gewoontes kom in die vorm van die akroniem RARE voor.


  1. Remain Relational.


Die fokus op verhoudings is belangriker as enige probleem wat opgelos moet word. Die meeste leiers word dikwels gedryf deur vrees vir mislukking en is gefokus om oplossings tot probleme te vind. In effek is resultate vir hulle belangriker as verhoudings. Dit veroorsaak gewoonlik dat leiers eensame lewens leef, oorweldig voel en tree op vanuit ‘n motiveringsisteem in die brein wat nie volhoubaar is in die langtermyn nie. Warner en Wilder onderskei egter tussen produksie en produksie kapasiteit. Eersgenoemde is die fokus die korttermyn behaling van resultate. Produksie kapasiteit handel egter oor die volhoubare handhawing van produksie oor ‘n langtermyn. Hierdie langtermyn volhoubaarheid kan slegs geondersteun word deur gesonde verhoudings. Vir RARE leiers is verhoudings dus altyd groter en belangriker as die probleme.


  1. Act Like Yourself.


Hierdie punt handel oor identiteit. RARE leiers openbaar ‘n konsekwente kerngedrag wat gewortel is in ‘n gesonde selfverstaan en karakter. Sulke leiers skep ‘n stuk sekuriteit en sekerheid vir mense met wie hulle saamwerk. Al beleef die leier sekere emosies of omstandighede, sal hulle altyd konsekwent optree ten opsigte van wie hulle is. Hiersonder sal mense rondom die leier altyd op eierdoppe loop en nooit presies weet waar hulle met hom/haar staan nie. Leiers moet verstaan wie hulle is en hoe dit inpas met die span en die mense met wie hulle saamwerk. Hierdie selfverstaan kan nooit gebou word op wat die leier doen of die mate van sukses wat hy/sy behaal nie. ‘n Gesonde selfverstaan kan slegs gewortel word binne-in ‘n liefdevolle verhouding met God, wat onvoorwaardelik vir ons elkeen verdien is aan die kruis. Leiers wat hulle selfverstaan egter grond op hulle eie prestasie en sukses sal, altyd onseker wees van hulself, hulle sal mense slegs sien as objekte en hulle sal onbewustelik maar aanhoudend voorskryf en manipuleer om hulle sin te kry.


3. Return To Joy.


Die een enkele faktor, volgens Warner en Wilder, vir die produsering van langtermyn motivering by ‘n span, is die leier se vermoë om terug te keer na ware egte vreugde en die belewenis van ‘n verskeidenheid van negatiewe emosies. Leiers wat ontstellende emosies kan verduur soos skaamte, woede, vrees, moedeloosheid en steeds vinnig kan herstel na ‘n plek van diep vreugde saam met hulle mense, sal selde voel hulle word oorweldig deur slegte omstandighede. Spanne wat hierdie soort omstandighede saam die hoof kan bied sal enige uitdaging in die oë kan staar.


4. Endure Hardship.


Hier gaan dit oor die vermoë om gesond te ly en jou span te betrek sodat swaarkry en gesond word ‘n kollektiewe en gemeenskaplike belewenis word. Jim Wilder noem dit “to suffer well”. Die meeste leiers weet nie hoe om te ly, swaar te kry met grasie en ‘n gesonde lewenshouding te hê nie. Die realiteit van die lewe is egter dat almal die een of ander tyd swaarkry. Ons Here het swaargekry. Min goeie uitkomste gebeur sonder die een of ander vorm van lyding. Die groot vraag is dus: Hoe leer ons om op verhoudings te bly fokus, voort te gaan om vanuit ‘n gesonde identiteit op te tree – soos wat God van ons verwag – te midde van lyding en swaarkry? Lyding wat nie reg hanteer word nie, kan die span se probleem raak. Lyding wat egter saam met die span beleef word, waar spanlede mekaar eg en hartlik ondersteun en bystaan, kan omskakel in ‘n stukkie hemel in die middel van die storm. Spanne wat sakke sout saam op eet, se verhoudingsband sal so diep wees dat liefdevolle gemeenskap ‘n spontane uitvloeisel sal wees en produksie sal outomaties hoog wees.


Spanne waar hierdie vier gewoontes saam aangeleer word is RARE leiers.

bottom of page