Leierskap en selfondersoek
top of page

Leierskap en selfondersoek


Op ‘n stadium is daar baie oor selfleierskap gepraat. Wat daarmee bedoel word, is dat dit soms heelwat eenvoudiger is om ander mense te lei, maar dat dit uiters moeilik kan wees vir ‘n leier om sy eie blinde kolle raak te sien, of om die gesonde gewoontes aan te leer, wat ons van ander mense vra. Waaroor mense egter nie so baie praat nie, is dat selfleierskap gepaard gaan met gereelde selfondersoek. Daar is baie maniere om dit te doen. In die hierdie nuusbrief wil ek egter vertel wat selfondersoek die afgelope jaar vir my gedoen het.


‘n Bietjie agtergrond. Ek het die verantwoordelikheid as spanleier by die gemeente, waar ek dien. Dan doen ek ook in die week so ‘n bietjie besigheid. Ek werk natuurlik vir ekerk ook. Alhoewel ek oor wyse vriende en goeie mentors beskik, het ek die afgelope tyd begin voel dat my selfbewussyn en selfverstaan besig is om af te neem, aangesien my lewenstempo baie hoog is. Ek besluit toe om ‘n leierskapkonsultant aan te stel vir wie ek gevra het om die volgende te doen:


1.    Voer onderhoude met al my leraarskollegas (daar is vyf van hulle), sowel as al die kantoorpersoneel. Sien hulle in my afwesigheid en stel vas hoe hulle my werklik beleef, hoe ek in hulle oë vaar in terme van ons gemeente se geestelike waardes.

2.    Help my om vas te stel hoe my funksionering as leier werk - wat word as positief en wat as negatief beleef.

3.    Help my om oor die algemeen ‘n beter leier te wees.


Tydens die hele verloop van 2023 was hy toe met die proses besig. Ek gee kortliks weer wat ek uit die proses geleer het.


1.    ‘n Meer objektiewe ondersoek is soms noodsaaklik, omdat personeel, al heers daar ‘n kultuur van veiligheid en goeie verhoudings, nie altyd direk vir ‘n leier sê wat hy nodig het om te hoor nie. Ek het nog altyd kollegas uitgenooi om vir my terugvoer te gee en kritiek te lewer op my menswees en funksionering. Alhoewel ek, wat die laasgenoemde betref, baie nuttige kommentaar gekry het, het die manier, wat die konsultant die vrae gestel het asook die feit dat ek nie tydens die onderhoude teenwoordig was nie, veroorsaak dat daar baie meer genuanseerde terugvoer was. Uiteindelik het ek baie nuttige insig bekom aangaande vrae oor byvoorbeeld nederigheid, ‘n kultuur van emosionele veiligheid, my vermoë om empatie te toon en te luister of nie, die skep van die gevoel van waarde onder personeel, integriteit, egtheid, veerkragtigheid (resilience), innovasie, geloofwaardigheid, die viering van suksessie, die skep van hoop en visionering.

 

2.    ‘n Ondersoek help ‘n leier om vrese oor wat mense mag dink, te oorkom. Alhoewel die inisiatief aangaande hierdie ondersoek geheel en al van my kant af gekom het, was dit nie maklik nie. Ek het gevrees. Ek het vermoed en in sommige gevalle selfs geweet, dat al die terugvoer nie positief gaan wees of gemaklik gaan wees om te hoor nie. My hande het effens gesweet net voor die eerste terugvoersessie. Vrees oor openbare opinies is egter iets, wat geestelike leiers eenvoudig moet oorkom. Dit gaan nie oor ons nie.

 

3.    Dis beter om eerder ‘n ondersoek, veral aangaande jouself, betyds en proaktief te inisieer, as wat jy later oor so min selfbegrip beskik dat jy skade aanrig. Dan moet die leiers of kerkraad namens jou besluit om die ondersoek te doen. Doen dit liewer voorkomend as reaktief. Indien dit vír jou besluit word kan dinge baie suur raak. Ek het die ondersoek geloods omdat slegs ek (sover ek weet) gevoel het dis nodig. Niemand anders het gekla nie. Ek wou dit egter doen, voordat ander mense ook agterkom dat ek dit nodig het.

 

4.    Doen so ‘n ondersoek, terwyl vertroue in die span hoog is. Wanneer daar alreeds te veel probleme is en die vertroue laag is, dan is dit baie pynlik om nog na kritiek ook te luister. Kry die kritiek voor die grootste probleme opdaag.

 

5.    Ek weet nou baie meer oor myself as voor die ondersoek. Ek beskik nou oor wysheid, wat ek nie daarsonder sou hê nie. Ek het baie meer insig in my eie leierskap. Ek is baie meer bewus van die effek van my manier van doen en die impak wat my buie, emosies en my leierskap op die mense rondom my het. Dit geld vir positiewe sowel as negatiewe kante van my leierskap. Daar is dinge wat ek doen, sonder dat ek gedink het dat dit belangrik was. Die terugvoer van die mense was egter dat hulle dit baie waardeer. Dit was vir my ‘n aangename verrassing. Dit is vir my van groot waarde, aangesien verhoudings in ons gemeente baie hoog geag word en ek nie die wonderlike eensgesindheid, wat in ons kantoor en gemeente heers, wou skade aandoen nie. Ek het wysheid bekom oor wat ek meer moet doen (byvoorbeeld dat ek meer geleenthede vir terugvoer moet skep), minder moet doen (soos minder besig moet wees en eerder tyd moet maak vir individuele aandag aan sommige kollegas, wat dit nodig het), dinge wat ek nuut moet skep (om sekere dissipelskapuitdagings die hoof te bied) en dinge wat ek moet ophou doen (soos om ongeduld te toon of om te hoor wat ek wil hoor).

 

6.    Die resultaat was dat sommige dinge beter beleef word as wat ek gedink het. Ek het nie verwag dat mense oor die algemeen baie meer waardering vir die proses sou hê, as wat ek aanvanklik gedink het nie. Dit geld ook vir ons leierskapspan. Toe ek aan die begin van hierdie jaar vra dat die konsultant aan hulle kom terugvoer gee, was daar, ten spyte van al my tekortkominge, slegs groot waardering uitgespreek. Alhoewel die proses dus onseker was en ietwat intimiderend, was die uiteindelike vrug egter bevrydend.


Selfleierskap kan nie gebeur sonder selfinsig nie. Selfinsig gebeur nie in isolasie nie. Dit gebeur in gemeenskap en in die konteks van verhoudings en gesonde terugvoer. Dis hoe ek nou na die ondersoekproses kyk. Ons as gelowige leiers beskik oor ‘n nuwe identiteit in Jesus en daar is vir ons geen veroordeling meer nie. Ons loop egter met die oorblyfsel van sonde binne-in ons rond; daarom moet ‘n leier se gebed altyd wees:


“Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad.” (Ps 139: 23-24).


God se ondersoekproses kan as skrikwekkend voorkom. Dis egter lewegewend vir jouself en die mense rondom jou.


Ek sal dit weer doen.

 

 

bottom of page