Die soort leier van die nuwe generasie
top of page

Die soort leier van die nuwe generasie


Die wêreld, die kultuur, sowel as die besigheidskultuur is besig om baie vinnig regoor die aardbol te verander. Ten eerste beslaan 50% van die werksmag uit millennials en Gen Z-werknemers, d.w.s. werknemers jonger as vier en dertig jaar. Die werksmag is vinnig besig om verder te verjong, terwyl die huidige Baby Boomers besig is om af te tree. Hierdie jonger wordende werkers stel geheel en ander eise aan leiers as vantevore.


In sy boekie Leadership Offence, stel Paul Falcone dit aan die leser: Leiers, wat aan hierdie jonger werknemerskorps leiding wil gee, gaan moet beweeg van leiers-as-bestuurders, na leiers-as-afrigters (coaches). Falcone stel dit as uiters positief: Leiers het al die potensiaal in hulle eie hande. Hy sê: “You are the talent asset; you are the profit lever.” Al die geleenthede is in ons as leiers se hande. Ons gaan egter die nodige kopskuiwe moet maak.


Hy verduidelik verder dat kunsmatige intelligensie, die gig-ekonomie gaan groei en dat werksposte gedurig herontwerp gaan moet word. Menslike verwagtinge rakende werk, rolle en loopbaanpaaie gaan nóg meer verander en die betrokke individue gaan saam verander. Hierdie skuiwe gaan vir fundamentele vaardighede, soos kritiese denke, probleemoplossing, konflikhantering, kommunikasie en ekstreme emosionele intelligensie vra. Hierdie vermoëns gaan die boublokke word waarop die toekomstige ekonomie gaan staatmaak.


Gevolglik gaan mense in leiersposisies baie meer op leierskap as sosiale invloed, innovering, komplekse probleemoplossing, aktiewe en interaktiewe leerprosesse en aktiewe luistervaardighede moet fokus. Oftewel: leierskap gaan in die vorm van afrigting moet plaasvind.


In die verlede het ons al baie gepraat oor hoe belangrik die skep van bevorderlike kultuur is vir enige verandering om plaas te vind. Hoe skep ons dus ‘n leier-as-afrigterkultuur? Falcone noem sekere belangrike fasette:


1.    Skep ‘n prettige omgewing. Mense leer die vinnigste waar die werk genotvol is. In die verlede was dit genoeg om werksomgewings te skep waar gedrewenheid, vriendelikheid en innovasie geheers het. Hierdie aspekte is steeds belangrik. Dis egter nie meer genoeg nie. Addisionele eienskappe word dringend benodig, soos pret, kreatiwiteit, sorg, verhoudingsvriendelikheid, emosionele vertroue in die leierskap en geïnteresseerdheid in mense se lewens. Hierdie mag dalk soos ‘n mondvol vir sekere leiers klink. Vir sommige ander kan dit ook klink asof die jong generasie meer wil speel en kuier as werk. Niks is verder van die waarheid af nie. Alle aanduidings toon vir ons aan dat die jonger generasie ‘n daadwerklike verskil wil maak en hulle kant bring. ‘n Afrigter motiveer en inspireer egter deur vriendelike en opwindende omgewings te skep.

2.    Kom neem as afrigter stelling in langs werknemers en help hulle om raak te sien hoe hulle huidige paradigmas hulle eie groei kan inhibeer. Skep ‘n omgewing, waar werknemers glo dat die leiers werklik hulle groei en vooruitgang op die hart dra. Help hulle dan deur tydsame vraagstelling en positiewe gesprekke verstaan hoe redelike raamwerke in die pad van die uitkomste, wat die werknemers vir hulleself sien, kan staan.

3.    Skep ‘n toename in selfbewussyn (self-awareness) by elke persoon en laat dan spasie vir diep groei toe. Help elke werknemer om d.m.v. empatiese en intelligente vraagstelling in die spieël te kyk en hulleself beter te verstaan. Niks motiveer ‘n werknemer soveel soos die gevoel dat hy hier by die werk meer van homself leer as op enige ander plek in die lewe nie.

4.    Help individue om hulle eie stem te vind. Hierdie gaan oor die eie, unieke, bydrae, wat elke individu na die tafel toe bring. Niemand is so lojaal nie as die werknemer, wat die gevoel kry dat sy gehelp word om haar diepste self te ontdek, te ontgin en tot vervulling te bring nie. Meer nog: dat daardie diepste self van haar hier in hierdie werksomgewing waardeer en aanvaar word en dat haar stem hier tel.

5.    Wees instrumenteel daartoe dat individue se loopbane kan verander, verdiep of verhoog tot hoër dimensies van betekenis, doel en vervulling. Dit beteken dat werknemers nie net hulle loopbane nie, maar ook hulle ganse lewens en verhoudingswêrelde beter begin verstaan en begin interpreteer in die lig van hoër roepings.


Wanneer daar na al bogenoemde punte gekyk word, dan besef ‘n leier, wat ook ‘n Jesus-volgeling is, dat daar eintlik hier ten diepste gepraat word van ‘n vorm van dissipelskap. Indien nie-gelowige mense vir ‘n leier, wat ‘n gelowige is, kan werk en terselfdertyd dieper betekenis kan ontdek en selfs die Here kan ontdek deur in ‘n bevorderlike omgewing, soos hierbo genoem, werksaam te wees, kan dit die wêreld verander en God verheerlik.


Mag gelowige leiers sulke omgewings skep, wat bevorderlik vir die waardes van die Koninkryk is sodat die Goeie Nuus van Jesus in hulle lewens kan posvat!

bottom of page