Woonstelblok
top of page

Woonstelblok


So ongeveer ʼn jaar gelede beloer ek en my vrou die advertensiepamflet van ʼn nuwe eiendomsontwikkeling in ons omgewing. Die prentjies was vol belofte van tuine, groot bome met mooi skaduwees en netjiese tuinbankies, waar mense na ʼn besige werksdag laggend kon sit en kuier.

 

Weens omstandighede het ek en my vrou die moontlikheid van ʼn woonstel in die oënskynlike Eden eers verby laat gaan. Ander kopers het die eenhede opgeraap.

 

So ʼn rukkie gelede het ek een laatmiddag gaan draf. Op ʼn stadium besef ek dat ek myself in ʼn omgewing bevind wat nou radikaal anders voel as toe ek die vorige keer daar gedraf het. Toe stop ek eers en bekyk alles.

 

Die eerste ding, wat ek toe sien, is ʼn groot klomp woonstelblokke, wat ‘n bietjie soos sardientjies ingedruk langs mekaar staan. Elke blok lyk presies soos die ander een. Die enigste verskil is die hoeke, waarteen die blokke gebou is. Dit lyk kompleet of iemand Tetris gespeel het, om so baie woonstelblokke op die vreemd gevormde erf te kon inpas. Tot op hierdie oomblik weet ek nie waar die ontwikkelaars parkeerplekke op dieselfde terrein gaan skep nie.

 

Eers toe ek weer begin draf, dring daar ʼn herinnering tot my deur. Hierdie Sardientjie-kompleks is die einste ontwikkeling, waarin ek en my vrou belang gestel het. Die verskil tussen die bemarkingspamflette en die uiteindelike ontwikkeling is egter wêrelde van mekaar af. Geen waterpoele, bankies, bome en duiwe gaan plek onder daardie kragtorings tussen die woonstelblokke kry nie.

 

Die uiteindelike geboue kan net ʼn teleurstelling vir enigiemand, wat die beloftes van die agente ernstig opgeneem het, wees. Dit het my laat dink aan die baie kere, wat mense en vervaardigers wonderlike dinge belowe het, maar uiteindelik vir teleurstelling gesorg het.

 

Maar dit het my óók aan God laat dink. God se beloftes, lyk dit my, kom telkens wonderliker uit as wat ons aanvanklik verstaan het.

 

Soos byvoorbeeld Joël se beloftes van die “Dag van die Here”, wat in Handelinge waar word, wanneer die Heilige Gees uitgestort word. Die koms van die Seun van Dawid was ook nog wonderliker as wat ons verwag het. Dit was toe al die tyd God se Seun self wat gekom het. Hier in Advent dink ons juis aan Jesus se koms. Hierdie koms was net soveel mooier en beter as wat aanvanklik verstaan is.

 

Miskien het jy self al teleurstelling weens die beloftes van ander mense beleef, of selfs jou eie. Mag jy in hierdie tyd van die jaar onthou dat God se beloftes altyd groter en mooier uitkom as wat jy sou kon droom of dink. Dit beteken wel dat ons soms net nóg moet wag …

© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page