Dis tyd om te dink
top of page

Dis tyd om te dink


Ek onthou toe ek nog ‘n kind was, was daar ‘n program op die TV, genaamd Beste Professor. Dit het gehandel oor ‘n universiteitsprofessor, wat ‘n baie goeie hart gehad het, maar wat aanvanklik vir die studente baie nors en selfs vreesaanjaend voorgekom het. Hy was bekend daarvoor dat hy altyd aan die begin van die jaar die eerstejaarstudente op hulle plek gesit het deur te sê:


Julle sit almal hier met skedels vol gemors!


Ek wonder wat sou dié professor vandag gesê het!


Die wêreld en die kerk is in ‘n dink krisis.


Ek dink aan Bill Maher, wat onlangs op sy program gesê het: Everybody wants to sound knowledgeable, without actually knowing anything. Ons vaar nie goed met kennis nie en die kwaliteit van ons denkprosesse het geweldig afgeneem. Dan dink ek die bekende filosofiese skrywer, Niassim Nicholas Taleb, wat beweer dat, ten spyte van ons baie inligting vandag, ons nie oor die vermoë beskik om daardie inligting te beoordeel, te interpreteer, te kategoriseer en tot gesonde gevolgtrekkings te kom nie. Ons het baie kennis, maar ons kan nie meer dínk nie.


Toesprake en preke moet nou korter wees, want mense se aandagspan kan dit nie hou nie.


Aanlynvideo’s moet korter word, want mense kan nie so lank fokus nie.


Vergaderings moet korter wees, want mense raak moeg.


Ons kry nou opsommings van boeke aanlyn, want mense kan nie meer ‘n boek tot by die einde lees nie.


Maatskappye moet hulle advertensies kort en catchy maak, anders koop mense nie die produkte nie.


ChatGPT floreer, want mense wil nie meer self dink en kreatief wees nie.


Mense lees maar kort stukkies in die Bybel en bid kort, vlietende gebede, want hulle gedagtes dwaal.


Vergelyk dit met die Engelse politikus uit die vroeë 1800’s, William Wilberforce, wat in sy joernale voor die Here bely dat hy slegs agt ure per dag lees! Dit het alles ingesluit van die Bybel tot ou Romeinse digters, Middeleeuse filosowe, eietydse natuurwetenskap, preke van sekere geestelike leiers, en ook boeke oor politieke teorie. Wilberforce het homself binne ‘n paar maande antieke Grieks geleer en die hele Nuwe Testament in Grieks deurgelees!


Vandag kan ek my so-iets nie indink nie. Ons breine het lui geword. Ek dink aan Neil Postman, wat al in die sewentiger jare gesê het: We are amusing ourselves to death.


Dis ‘n probleem.


Nie al bogenoemde goed, soos TV en tegnologie is sleg nie (ek weet byvoorbeeld van mense wat ChatGPT baie sinvol gebruik), maar wanneer gaan ons dink? Wat ons nie besef nie, is dat wanneer ons nie meer ordentlik kan dink nie, raak ons ook geestelik lomp en slordig. Ons begrip van God raak oppervlakkig en ons verhouding met en ons belewenis van Hom ly skade. Ons raak maklik slagoffers van elke gebeurtenis in die kultuur en elke nuwe afleiding in die wêreld. Die geringste krisis laat ons in koue koors uitslaan. Daarom word daar op soveel plekke in die Nuwe Testament gesê: Wees daarom verstandelik wakker en nugter ... (1 Petrus 1:13). Dis daarom nie snaaks dat al die mense in die geskiedenis, wat groot vernuwing en positiewe veranderinge in die samelewing gebring het, byna almal diep denkers was nie. Dink maar aan mense soos Augustinus, Martin Luther, Dietrich Bonhoeffer en Martin Luther King. Dis opvallend hoe baie daar in Handelinge vertel word hoe dikwels Paulus met die mense uit die Skrif geredeneer het. Hy kon dit doen en die wêreld verander, omdat hy sy intellek onder lyding van die Heilige Gees en in diens van Jesus gestel het. Daarom het hy dit geoefen en skerp gehou.


Intellek is beslis nie alles nie. Die mees eenvoudige mense kan soms vir ons die diepste dinge oor Jesus en die lewe leer. Ons het egter elkeen nodig om ons volle potensiaal in die Here te bereik, in ooreenstemming met wat ons van die Here ontvang het. God moet tog met hart, siel én verstand liefgehê word.


Ek dink aan ‘n Amerikaanse gemeente, waar die dominee elke Sondag doelbewus een hele uur lank preek! Dis deel van die strategie van die gemeente. Hy preek nou al vir dekades vers-vir-vers deur die hele Nuwe Testament. Ek het al daar besoek afgelê. Die duisende mense, wat die erediens bywoon, maak verwoed notas en kom kerk toe met Bybelkommentare om opleeswerk te doen, terwyl daar gepreek word! Waarom doen hulle dit? Die dominee sê:


Here we teach people to think.


Daarop kan ek net sê: Amen!

bottom of page