Perspektief, die groot gelykmaker
top of page

Perspektief, die groot gelykmaker


In sy nuutste My Wêreld, skryf Roedolf Botha oor "Perspektief, die groot gelykmaker"
Perspektief, die groot gelykmaker

Iemand het een keer vir my gesê dat indien hy één ding, slegs één ding vir sy kinders sou kon kies, sou dit wees om perspektief in elke lewenssituasie te kan hê. Om perspektief te kan hê, wanneer afdanking plaasvind; wanneer egskeiding plaasvind; wanneer misdaad tref; wanneer beserings opgedoen word; wanneer siekte opdaag; wanneer Covid-19 die wêreld tref; wanneer trauma mý tref; wanneer die hospitale oorvol is en wanneer mense rondom my begin sterf.


Niks bring vinniger en effektiewer perspektief as die dood nie. Maak geen fout nie: die dood is God se vyand, nie Sy vriend nie. Dood is ‘n simptoom daarvan dat hierdie wêreld gebreek is. Ons behoort te veg teen dood en ons behoort lewe te propageer.


Maar die dood bring ook perspektief.


Die gospel-groep Casting Crowns sing:


I am a flower quickly fading
Here today and gone tomorrow
A wave tossed in the ocean
A vapor in the wind.

Hierdie woorde is gebaseer op Psalm 90. Maar waarom sing gelowige mense sulke, op die oog af neerdrukkende woorde? Want om ons sterflikheid te onthou, bring nodige perspektief in ons lewens. Ons benodig dit vir die hier en nou. Ons sterflikheid help ons om te onthou wat uiteindelik werklik vir ons as sterflinge belangrik behoort te wees. Ons as sterflinge het nodig om realisties te wees aangaande ons sterflikheid. Indien nie, verloor ons die nodige fokus. Die liedjie gaan verder:


Still, You hear me when I’m calling
Lord, You catch me when I’m falling
And You’ve told me who I am...
I am Yours. I am Yours.

Dis nie genoeg om hierdie dinge aan te hoor in goeie tye, terwyl ons bloot instemmend knik nie. Ons voel die gewigtige waarheid van hierdie woorde eers wanneer ons dit aan ons lyf voel, wanneer die dood aan ons voordeur kom klop. Dan eers hóór, vóél en belééf ons werklik die onvermydelike, ware impak van hierdie woorde. Die realiteit van die dood ontmasker die nutteloosheid van al die nonsens, waaraan ons soms vashou en waarop ons fokus. Dit bring die verreikende belang van geloof en verhoudings kragtig en dinamies na die voorgrond van ons bewussyn.


I am Yours. I am Yours.

“My enigste troos in lewe en dood is dat ek aan Jesus Christus behoort.” Dis hoe ons altyd gesing het. Die krag en betekenis van ons lewens het min te make met uiterlike omstandighede en of ons Covid fisies oorleef, maar veel eerder met die primêre verhouding waarin ons staan.

  • Aan wie behoort jou hart?

  • Deur wie word jy liefgehê?

  • Is daardie liefde onvoorwaardelik, sterk en standhoudend en sal dit ons kan dra tot ander kant die dood?

Dis die vrae wat die dood ons dwing om te vra. Dis al wat saak maak. Dis die perspektief, wat ons nodig het. Dan besef ons dat al die ander dinge, waarop ons so dikwels wil aanspraak maak, slegs genade is en dat so baie daarvan bloot tydelik en soms onbelangrik is. Wanneer ons uit ons harte uit kan sing I am Yours, dan kan ons werklik leef met die vrede en vreugde, wat ons s’n in Jesus is.


Sterflinge weet: Ons is nou reg en môre weg. Maar dis reg so.


Want ons is Syne.

bottom of page