Waarom voel ons so ontuis in hierdie wêreld?
top of page

Waarom voel ons so ontuis in hierdie wêreld?


In hierdie My Wêreld nuusbrief vra Roedolf Botha waarom voel ons so ontuis in hierdie wêreld?
Waarom voel ons so ontuis in hierdie wêreld?

Hierdie lewe kan geweldig sinvol, lekker en plesierig wees. Daar is immers genoeg goeie verhoudings, genoeg skoonheid en genoeg goedheid teenwoordig dat ons onsself met relatiewe vrede en vreugde kan uitleef en uitwoed. Tog is daar soms die vreemde gevoel dat ons nie hier hoort nie. Wanneer ons pyn beleef, of wanneer iemand na aan ons sterf aan Covid of enige ander lewensomstandigheid, of wanneer ons die slagoffers van korrupsie word, of sommer net nou en dan af voel, dan kry ons soms die gevoel dat die lewe nie veronderstel is om so te werk nie. Dis asof ons besef ons leef in ‘n vreemde, ongemaklike wêreld.


Hierdie gevoelens is geen geringe ding nie. Dit weerspieël iets van die werklikheid, waarin ons leef. Trouens, die skrywers van die Nuwe Testament gebruik gereeld hierdie soort taal aangaande ons identiteit in hierdie wêreld. Petrus noem ons die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld (1 Petrus 1:1). Die idee in die teks is dié van tydelike inwoners. Ons is soos kampers, wat tydelik tent opslaan om weer binnekort na ons permanente tuiste terug te keer. Ons verbasing moet dus nie te groot wees, wanneer ons soms ietwat ontuis hier voel nie.


‘n Interessante fliek wat pas verskyn het, het die titel The Misfits. Dit vertel die storie van ‘n groep diewe en oudmisdadigers, wat saamspan om ryk mense te besteel en dan alles te skenk aan welsyn of arm mense in nood. Hulle voel soos misfits, want hulle bevind hulleself tegelykertyd tussen twee wêrelde. Aan die een kant is hulle eintlik boewe, aangesien hulle steeds mense besteel. Aan die ander kant het hulle ander waardes as die res van die misdadigerwêreld, aangesien hulle niks vir hulleself hou nie. Hulle is dus misfits.


Ons is ook.


CS Lewis het gesê dat indien ons ontuis in hierdie lewe voel, dit is omdat ons eintlik vir ‘n ander een geskep is. Dis waar. Ons moet onthou dat, alhoewel God van ons verwag om hierdie wêreld te dien en hard te werk aan die realisering van Sy koninkryk, hierdie lewe in tyd en plek nie ons finale tuiste is nie.

Jesus het vir ons die beste voorbeeld kom stel. Hy was die voorbeeld-vreemdeling. Hy was só anders, goed en heilig dat Hy vir sondige, onheilige mense soos die vyand begin lyk het. En mense ruim gewoonlik hulle vyande uit die weg. Hulle het dit met Jesus probeer doen.


Ons moet dus nie onkant gevang word, wanneer dit met ons ook gebeur nie.


Ons is immers die misfits van hierdie wêreld.

bottom of page