• Roedolf Botha

Blydskap – ‘n leier se kragtige wapen


Wat is 'n leier se kragtigste wapen? Lees gerus wat Roedolf Botha hieroor skryf in sy nuutste Leier nuusbrief.
Blydskap – ‘n leier se kragtige wapen

Daar is al voorheen baie gesê oor die belangrikheid van verhoudings, verhoudingsvaardighede en emosionele intelligensie in leierskap. ‘n Nuwe fassinerende studie deur dr. Chris Shaw kyk daarna vanuit ‘n neurologiese hoek en beweer dat die brein meer produktief is en vaardighede baie vinniger en beter aanleer, wanneer dit deur middel van verhoudings geskied. ‘n Gesonde organisatoriese kultuur is ‘n kultuur waar daar twee dinge heers: Duidelikheid (“clarity”) en goeie verhoudings. Van hierdie twee is verhoudings die belangrikste.


Dis egter nie nuwe nuus nie. Wat wel nuwe nuus in die lig van Shaw se vars bevindinge is, is die belangrike rol wat blydskap en vreugde in die lewe van die leier speel. Blydskap is belangrik, spesifiek in die kweek van goeie verhoudings en gesonde kulture. Leiers, wat nie lei vanuit ‘n diep vreugdevolle lewenshouding nie, skep nie maklik gesonde en bevorderlike kulture in organisasies nie. Volgens Shaw behels blydskap die speelsheid, die vonkel in iemand se oog, die glimlag wat van diep binne-in iemand kom, vreugde wat maak dat mense spontaan na mekaar toe met openheid, toeganklikheid en vertroue beweeg. Blydskap is ‘n verhoudingservaring wat uitloop in ‘n sterk lewegewende gevoel van wedersydse omgee.


Wanneer die brein vreugde raakloop, versterk dit onmiddellik die gevoelens van samehorigheid en identiteit. Dan leer die brein baie vinniger nuwe konsepte en vaardighede aan en die resultaat is byna altyd hoër produktiwiteit. Shaw en sy span het gevind dat maatskappye of departemente, wat duidelik is oor doelwitte en wat oor al die nodige inligting beskik om hulle werk te kan doen, soms steeds faal in terme van hulle belangrikste doelwitte. Die rede is dikwels dat daar geen kultuur van spontane blydskap heers nie. Blydskap in ‘n span kan baie maal dien as die emosionele energie en motivering, wat almal vorentoe beweeg. Hierdie merkwaardige studie van Shaw maak onder andere die volgende stelling:


Leadership travels at the speed of joy.


Vreugde is uiters noodsaaklik, veral op drie vlakke:

  1. Die brein word deur vreugde gemotiveer om vinniger te leer. Ons leer nie maksimaal alvorens die vreugde-deel van die brein nie gestimuleer is nie.

  2. Die tendens is dat mense met ‘n hoë vlak van verhoudingsintelligensie, gewoonlik ‘n omgewing van blydskap rondom hulle skep. Dit word nie noodwendig altyd doelbewus gedoen nie, maar dis byna altyd ‘n kenmerkende deel van die kultuur, wat deur effektiewe leiers geskep word.

  3. Leierskapvaardighede word nie van een persoon na die volgende in die afwesigheid van blydskap oorgedra nie.


Leierskap, wat blydskap ignoreer of verwaarloos, skakel om in kliniese bestuur en bring geen lewe en inspirasie nie. Dit kan baie maklik gebeur wanneer ‘n leier gedurig moet fokus op algemene leierskapstake, soos produksie, doelwitte en resultate. Dan let ‘n mens nie altyd maklik op hoe vreugde in die maatskappykultuur begin afdraande gly nie.


Dis veral belangrik vir Jesus-volgelinge, wat leierskap verantwoordelikhede het: Jesus sê (Joh 15:11):

Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.


Indien Jesus se dinamiese, inspirerende en langdurige invloed in ‘n groot mate op vreugde berus het, hoe sal ons kan bekostig om dit te ignoreer?