Pas jou kop goed op
top of page

Pas jou kop goed op


Lees Romeine 8:7

 

Ons is wat ons dink. Ons gedagtes bepaal ons menswees. En dit gebeur blitssnel. Teen 300 kilometer per uur snel gedagtes heen en weer oor die neurologiese bane van ons kop. Trouens, daar vorm tot sowat ‘n miljoen nuwe sinaptiese verbindings per sekonde in ons brein. Sinapses is die roetes, waarlangs informasie in ons koppe gestuur word. Ons het sowat 100 biljoen neurone - dit is die breinselle, wat as houers van informasie dien, vanwaar impulse verder gestuur word. Praat van ‘n byenes van informasie in ons kop! Daarom maan Paulus ons om ons koppe goed op te pas.

 

Ons durf nie toelaat dat ons kop outomaties koers kies nie. Dan gaan dit sy eie roetes volg en bly dink soos wat dit vir jare reeds onbewustelik geprogrammeer is. Nee, ons moet elke dag pro-aktief en bewustelik in ons denke ingryp. Ons moet besluit wat ons inlaat en watter gedagtes en emosies ons toegang tot ons kop weier. Ons mag veral nie met denke, wat God vyandiggesind is, rondspeel nie. Mense, wat God nie ken nie, se koppe is nie onder Sy beheer nie, maar onder hulle eie beheer. Paulus noem dit ons sondige aard of natuur. Wanneer dít wen, verloor God-verheerlikende denke. Daarom moet jy die Heilige Gees elke dag die eregas in jou hart en in jou gedagtes maak. Laat Hom toe om jou te leer om reg te dink.

 

Gebed:

Neem my gedagtes onder U beheer, Gees van God. Amen.

bottom of page