Daar’s altyd gevolge
top of page

Daar’s altyd gevolge


Lees Romeine 8:6

 

Alles wat ons doen het gevolge. Dit leer ons al kleintyd. Daarom weet ons dat ons nie met vuur moet speel nie, want soms verbrand ons ons vingers. En dat ons behoorlik links en regs moet kyk, voordat ons oor ‘n straat stap. Ons vergeet dit egter soms en dan kry ons seer. Dieselfde is ook op ons daaglikse keuses tussen ‘n lewe in die vlees of een in die Gees van toepassing. Dan is daar altyd groot gevolge, goed en sleg!

 

Paulus spel die gevolge van ‘n lewe in die vlees in net een woord uit: dood! So eenvoudig soos dit. Rig jou denke op die vlees en jy gaan dood, nou en vir altyd! ‘n Kop, wat sonde-afgerig is, is ‘n kop propvol dood! Moenie ‘n fout maak nie - hoe voller jy jou kop met sondige gedagtes prop, hoe meer maak dit jou lewe dood. Maar weer eens is daar ook ‘n ander kant. ‘n Kop, wat vol van die Gees se dinge is, lei tot ‘n leefstyl waar God se soort lewe en Sy vrede die botoon voer. Aangrypend, né! Die sleutel lê dus in jou denke, sê Paulus. Bedink die Gees se dinge en Sy nuwe lewe spoel oor in jou doen en late. Trouens, hoe meer ruimte jy vir Hom in jou innerlike lewe gee, hoe meer vul Hy jou lewe met oorvloed. Wat gaan tans in jou kop aan?

 

Gebed:

Laat U lewe en vrede in U kinders se lewens instroom, Gees van God. Amen.

bottom of page