Vlees / Gees - wat sal dit wees?
top of page

Vlees / Gees - wat sal dit wees?


Lees Romeine 8:5


Twee leefstyle domineer hier op aarde - ‘n sondige leefstyl en ‘n Geesgedrewe leefstyl. Wanneer sonde, oftewel ‘n vleeslike manier van leef, soos wat Paulus dit hier in Romeine 8 noem, domineer, dan wen selfsug, eiewilligheid, hoogmoed en al die ander verskriklike gedragsvorme, waarna Paulus vroeër in Romeine 1:29-31 verwys het. ‘n Vleeslike lewenstyl is in stryd met net mooi alles, waarvoor Jesus staan. Dit gaan lynreg teen die grein van God se koninkryk in. Daarom bring dit donkerte, hooploosheid en dood na ons wêreld. Dit bring ook ‘n Godsverduistering orals rondom ons! Tragies, maar waar.


Paulus verduidelik voorts dat mense, wat hulle lewens volgens die vlees inrig, terselfdertyd ook hulle gedagtes hierop instel. Wat ‘n bose kringloop - verkeerde dade lei tot verkeerde gedagtes, wat op hulle beurt weer tot nog verkeerde dade lei. Eina! Maar wag, daar’s fenomenale goeie nuus ook hier in Romeine 8:5 - die Gees se leefstyl domineer skitterend in Christene se lewe. Diegene, wat volgens Sy beginsels leef, rig hulle denke heeltyd op Hom en op dinge, wat God verheerlik. Hulle leef daarom in die dampkring van ‘n goeie spiraal: Geesvervulde waardes lei tot Geesvervulde denke, wat op hulle beurt weer tot nog nuwe Geesvervulde woorde en dade bydra! Nou ja, waar lê jou prioriteite? Wie wen in jou lewe – die vlees of die Gees? Jou denke en jou dade bevat die antwoord!


Gebed:

Gees van die lewende Here, gee dat U vandag in my lewe sal wen. Amen.

bottom of page