Op hartverloor se vlakte
top of page

Op hartverloor se vlakte


Partykeer verloor mense hulle harte, terwyl hulle nog leef. Dan word hulle harteloos hard en wreed. Presies dit het gebeur met die berugte Russiese leier, Josef Stalin (1878-1953). Daar word vertel hoedat hy by sy eerste vrou, Ekaterina, se begrafnis in 1907 gesê het sy was die enigste persoon, wat sy hart sag gemaak het. Met haar dood het sy laaste gevoelens van medelye gesterf. Van toe af het hy verander in ’n hartelose leier wat ook miljoene van sy eie mense doodgemaak het. Wat ’n peperduur prys om te betaal vir hartverlies ... ek bedoel die verlies van ’n sagte hart!


Baie mense ly onder hartelose leiers, base, kollegas en familielede. Orals in die publiek loop ‘n mens jouself ook vas in hartelose mense. In verkeer gooi hulle allerlei lelike tekens vir jou as jy nie vinnig genoeg uit hulle pad kom met jou motor nie. In die ry by die bank of by die kruidenierswinkel swets of baklei hulle, as hulle te lank moet wag vir diens. Keer asseblief dat so iets jou oorkom - hartverlies, bedoel ek! Moenie jou hart verloor nie. Plaas dit elke dag in die Here se hand. Nog beter - vra dat God Sy gebooie altyd op op jou hart sal skryf,soos wat Hy in Jeremia 31:33 beloof het. Dan sal jou hart nooit vol selfsug wees nie. Of vol donker gedagtes nie. Of vol bitterheid en onverdraagsaamheid nie. Want dit is presies wat gaan gebeur, as jy nie jou hart goed oppas nie.


Jy het vandag ’n groot keuse om te maak- ’n lewensbelangrike een. Dit is om jou hart nogmaals toe te vertrou aan die Here se goeie sorg. Hyself sal dit vol maak met liefde vir Hom en vir ander.

bottom of page