Hoop vat voor!
top of page

Hoop vat voor!


Where did you go to my darling?

Die skryfster Maria Popova vertel in ’n oorsese rubriek dit was haar ouma se vraag aan haar oupa net nadat hy sy laaste asem uitgeblaas het. Syself worstel ook met hierdie vraag. Sy wonder hoe dit moet wees om in daardie oomblikke net te verdamp tot pure nikswees, tot “stardust”. Ons almal is volgens haar immers net ’n massa atome, wat lewe vir ’n kort tydjie hier op aarde deur ’n onpersoonlike heelal gegun is. Nadoods hersirkuleer al ons atome maar weer verder saam met die res. Dan verander ons in stersop. Of so-iets!


Toe ek hierdie woorde van Popova lees, dink ek onwillekeurig aan die andersoortige hoop, wat in die eerste Christene se harte geleef het. Hulle is vervolg, gemartel en doodgemaak, maar niks kon hulle getuienis stilmaak dat Christus hulle ganse lewe is nie. Hulle het aanhoudend bely en getuig dat Hy hulle Here is. Hy het geweet Hy is hulle hoop hier en nou, maar ook vir ’n ewigheid anderkant die dood. Dit is hoekom Paulus onder andere in 2 Korintiërs 4:16 skryf dat hy nooit moedeloos word nie. Selfs al kry hy swaar, wag daar ’n nuwe heerlikheid op hom. Selfs al vergaan hy uiterlik, word hy ook dag na dag innerlik vernuwe.


Paulus se woorde is steeds die waarheid. Hoop het nie geloop nie. Hoop is gesetel in ’n Persoon. Hoop is geanker in Christus. Hoop is om Hom te volg en vir Hom te leef. Daarom is dit nou die tyd om voor te loop met hoop in die Heer se Naam. Vat voor en dui die regte koers aan. Praat eerste die taal van hoop. Wees eerste vol liefde vir God en ander. Doen eerste wat reg is. Moenie eerste kla nie. Bly eerste stil tussen woedendes. Praat eerste mooi oor die Here en oor ander mense. Dan wys jy ook in 2023 die regte pad aan. Dan is jy nie ’n slagoffer van al die verkeerde voorvatters, wat hoop verloor het nie. Dan hoef jy nie die res van die jaar agter dwase aan te strompel nie. Wees eerste die Here se voorvatter en voorloper hier in 2023.

bottom of page