Moenie maklik praat nie
top of page

Moenie maklik praat nie


“Dis maklik vir jou om te praat …” Hierdie refrein is altyd gewild. In ’n stukkende wêreld, waar mense hulleself graag in terme van hulle eie tekorte en hulle eie benadeeldheid verstaan, is dit nie vreemd dat iemand, wat opbouend praat, gou-gou uitgehaal word nie. “Dis maklik vir jou om dit of dat te sê, maar jy staan nie in my skoene nie!” Dit hoor jy soms as jy vir iemand sê om moed te hou. Of wanneer jy vir mense sê hulle moenie toelaat dat moeilike omstandighede hulle onderkry nie.


Inderdaad kom woorde maklik. Een-twee-drie glip dit oor ons tong. Nogtans het baie mense, wat maklik praat, ‘n duur prys betaal om presies dit te mag doen. Die Here het hulle eerstehands gehelp om vas te byt. Deur Sy genade is hulle nie deur krisisse onderstebo geloop nie. Hulle het geleer om aan te hou glo toe die lewe geen sin gemaak het nie. Sulke indiwidue se “maklike” woorde dra baie gewig. Leer by hulle. Moenie vir hulle sê: “Dis maklik vir jou om te praat” nie. Vra eerder vir hulle watter lesse het hulle geleer om op die Here se pad staande te bly. Volg in hulle voetspore, soos wat hulle in die voetspore van die Here volg. Dan dra jou “maklike” woorde ook kort voor lank die regte gewig.


Maar onthou ook dat diegene, wat jou uithaal omdat jy maklik praat, se opmerkings dikwels uit ’n plek van seerkry ontstaan. Om skerp terug te reageer, wanneer sulke “maklik praat” woorde na jou kant toe kom, help niks nie. Luister mooi na sulke. Moenie jouself te gou verdedig nie. Sorg egter dat jy nie met onnodige skuldgevoelens wegstap, as jy dit op een gebied dit makliker het as iemand anders nie. Sê dankie vir die Here vir elke stukkie onverdiende guns in jou lewe. Help ander mense waar jy kan. Dan sal jou eie woorde nooit maklik oor jou lippe kom nie.

bottom of page