Ons staan bakhand voor God
top of page

Ons staan bakhand voor God


Wanneer ek hoor dat ons almal eendag voor God se troon sal moet staan om verslag oor ons aardse lewe te doen, dan weet ek ekself gaan dit nooit maak op eie stoom nie. Ek kan nie eens voor God staan wat my eie geregtigheid of goeie werke betref nie, wat nog te sê al my oortredings. My beste pogings om God te probeer beïndruk, is veels te min en my slegste pogings is veels te veel. Dit is hoekom die kerkhervormer, Martin Luther (1483-1546), se laaste skriftelike woorde vir my soveel sin maak. Luther het derduisende bladsye se preke, Bybelvertalings, strydgesprekke en kommentare oor Bybelboeke neergepen. Dalk is sy heel laaste skriftelike woorde sy grootste. Dit lui: “Ons is bedelaars. Dit is die waarheid!” Hierdie paar woorde was op ’n papiertjie neersgeskribbel, wat blykbaar later aan hom gevind is.


Op eie stoom het ons niks om vir God aan te bied nie. Ons is lewenslange genadebedelaars. In dieselfde asem weet ons Jesus het by Golgota ingestaan vir ons. Daar het Hy die moeilikheid gevat wat onsself moes vat. Daar het Jesus ’n einde gebring aan die vyandskap tussen hemel en aarde. Daar het God sy offer aanvaar. Ons moet sy hand vashou hier en nou, maar ook eendag as ons voor God staan. Hier en daar is ons Regter ook ons Redder. Hier en daar is Hy ons genadig. Dit is die reine waarheid!

bottom of page