Ons leer by nuwe Christene van gasvryheid
top of page

Ons leer by nuwe Christene van gasvryheid


Ek dink met nostalgie terug aan my kinderjare, toe gaste soms ongenooid by ons huis opgedaag het en met liefde en gasvryheid oorval is. Ek dink terug aan my liewe ma, wat met haar oop hart gaste ontvang en bederf het. Almal het na die kuier ‘n bossie blomme uit die tuin, groente uit die groentetuin of tuisgebakte koekies gekry om saam te neem huis toe. Deesdae is daar ook baie gasvrye mense, maar ons is dikwels suinig met ons tyd, omdat ons lewens so gejaagd is.


Ons kan by nuwe Christene leer van gasvryheid. In Lukas lees ons die verhaal van Saggeus, die hooftollenaar. Jesus het homself uitgenooi om by Saggeus te gaan kuier, nadat hy hom in die vyeboom gesien sit het. Net daar kom Saggues tot bekering en sy hele huisgesin word gered. Wat ‘n wonderlike einde vir ‘n ongenooide kuier! In Handelinge 16 lees ons van die purperverkoopster, Lydia. Paulus het met haar gesels oor Jesus en sy het haar hart oopgemaak. Toe is sy en die ander lede van haar huishouding gedoop. In Handelinge 16:15 sê sy: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom bly dan by my oor.”Toe Lydia se hart vir die Here oopgegaan het, het haar hart ook vir mense oopgegaan.


In Handelinge 2:44 lees ons van die besielende voorbeeld van die eerste gemeente in Jerusalem: Al die gelowiges het gereeld bymekaargekom en hulle het alles, wat hulle besit het, met mekaar gedeel.


Volgens die woordeboek beteken “gasvryheid” om ‘n goeie ontvangs en verwelkoming te bied aan diegene, wat dit nodig het. As ‘n mens die woord “gasvryheid” direk uit Grieks vertaal, beteken dit ‘n liefde vir vreemdelinge. Dit is met ander woorde om ‘n gevoel van goedgesindheid te hê en dit met woord en daad uit te dra.


Om ‘n gevoel van goedgesindheid en warmte by jou vriende te skep, is redelik maklik, maar om vreemdelinge met liefde en respek te ontvang, vereis dat jy dit doelgerig moet doen. Bid dat jou huis en ook jou hart oop sal wees vir vriend en vreemdeling. Bid dat almal, wat oor jou drumpel by jou huis of jou werk tree, ‘n gevoel van warmte sal ervaar. Maak seker dat jy tyd maak vir vriend of vreemdeling, wat van jou tyd en aandag nodig het. As die kuier ‘n maaltyd vereis, maak dit met liefde en sit dit met sorg voor. Al was die kuier onverwags en jou bestanddele maar karig, sal gaste soos konings eet, as jy hulle laat welkom voel. Luister aandagtig na hulle gesprekke en onthou om nie na te laat om, soos die eerste gemeentelede, tydens jul kuier oor Jesus te praat nie!

bottom of page