top of page
Elmarie van der Westhuizen

Woorde het gewig


Sticks and stones may break my bones, (but words can never hurt me).”

Ons almal het al agtergekom dat hierdie kinderrympie nie waar is nie. Want ons woorde dra gewig en woorde, wat seermaak, weeg swaarder as woorde, wat komplimenteer. Ons brein is meer sensitief vir negatiewe woorde. Dit is hoekom beledigings of kritiek ons langer beïnvloed en ons dit beter onthou as positiewe opmerkings.

Woorde van familielede het meer impak en maak seerder as woorde van ‘n winkelassistent of ‘n verlangse kennis. Om uit ‘n pa of ma se mond te hoor ”ek is trots op jou”, kan lewensveranderend vir ‘n kind wees. Selfs woorde, wat nie gesê is nie, maak ‘n groot verskil. ‘n Vriendinnetjie vertel onlangs dat haar lewe ingrypend beïnvloed is, omdat haar pa nooit vir haar gesê het hy is lief vir haar nie. “Hy het my baie bederf en my oorlaai met geskenke, maar nooit gesê hy is lief vir my nie. Hy is intussen oorlede en ek sal dit nooit uit sy mond hoor nie.”


Efesiers 4:29 leer ons dat as ons iets sê, moet dit iets wees wat die moeite werd is om te sê en vir ander iets beteken. (Nuwe Lewende Vertaling: “net wat goed en opbouend is vir ander”). “Kyk wat nodig en goed is om in die omstandighede te sê en sê dit dan.” (Die Boodskap)


Om Jesus se liefde uit te leef, ook in my woorde, is dit nodig dat ek weer bewus word van my manier van kommunikeer – is ek te krities, gee ek te min komplimente? Hoe meer ek ingestel is om ander met positiewe, opbouende woorde te bedien, hoe meer sal dit ook in my eie lewe deurwerk.


Alice Kahana, 'n kunstenaar, wat in Houston woon, het 'n pynlike herinnering aan haar reis na Auschwitz as 'n vyftienjarige meisie. Op pad soontoe is sy in die warboel van haar ouers geskei en bevind sy haar in beheer van haar agtjarige boetie. Toe die vragtrein aankom, kyk sy af en sien dat sy een skoen weg is. "Hoekom is jy so dom?" skree sy vir hom, soos ouer susters geneig is om te doen. "Kan jy nie jou goed oppas nie?"


Dit is niks buitengewoons nie, behalwe dat dit die laaste woorde was wat hulle met mekaar gepraat het, want hulle is in verskillende trokke ingebondel en sy het hom nooit weer gesien nie.


Byna 'n halwe eeu later leef Alice Kahana steeds vanuit ‘n besluit, wat uit daardie seer omstandighede gebore is – “She vowed not to say anything that could not stand as the last thing she ever said.” (The Art of Possibility deur Rosamund en Benjamin Zander)


Wanneer ek die dag met Psalm 19:15 in my hand ingaan, (“Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart vir U aanvaarbaar wees, Here, my Rots en my Verlosser.” Afr 20) kan ek verseker wees dat my woorde die toets van tyd kan deurstaan.

Comments


bottom of page