top of page
Writer's pictureLiezel Lüneburg

Boelies bring lyding


Nabal was ʼn skoorsoeker en bullebak. Hy het een en elk beledig en word in 1 Samuel 25 beskryf as ʼn “regte korrelkop en onbeskof” en ʼn verkeerde mens wat nie rede kan sien nie.


Dawid bevind hom in die omgewing en stuur manne na Nabal toe: “As julle by Nabal kom, moet julle hom namens my vra hoe dit gaan. En sê vir hom: Gesondheid en voorspoed vir u en u familie en alles wat u besit!” Die ou nukkebol wil niks weet nie. Dawid is nie lus vir ʼn hardekoejawel nie en besluit om sy swaard aan te gord.


Abigajil, Nabal se verstandige vrou, ontlont die situasie met die woorde: “Meneer moet hom tog nie steur aan daardie verkeerde mens, aan Nabal nie, want hy is net soos sy naam. Sy naam beteken dwaas, en dwaas is hy.” Dawid het ʼn oog vir ʼn wyse vrou gehad en het later met haar getrou.


Die boelie, Nabal, aan die ander kant, het omgekap en dae later gesterf nadat hy van sy vrou se weldade verneem het.


Die wêreld is vol boelies en elkeen van ons kry van geboorte af met bullebakke te doen. Boelies stoot trollies in winkels, beklee bestuursposisies en dien in die kabinet. Brekers is ook op ons paaie te vind en sosiale media het dit makliker gemaak om ander af te knou en te beledig sonder om gesig te wys. Almal loop deur, maar gemarginaliseerdes, armes en ander sagte teikens kry veral swaar. Verder is boeliery ʼn epidemie in skole en ouers is raadop, veral omdat boelies dikwels deur boelies grootgemaak word en afknouers nie van konfrontasie hou nie.


Dit is nie maklik om raad te gee oor hoe om met ʼn boelie af te reken nie en ek gaan ook nie probeer nie.


Die doel van my skrywe is eerder om Nabal se storie te vertel as ʼn herinnering van hoe ek, as Christen, nooit ooit mag optree nie. En dit is nie maklik nie! Min mense, indien enige, kan sê dat die boelie, wat in elkeen wegkruip, nog nooit uitgespring het nie.


ʼn Boelie is ongeduldig terwyl ʼn ander met verdraagsaamheid optree. Boelies is nukkerig in plaas van vriendelik, grootpraterig en verwaand eerder as nederig. Bullebakke maak ander seer, soek in alle situasies hulle eie belang en is soos bomme, wat gereed is om te ontplof. Boelies grawe graag ou koeie uit die sloot en baai in ander se ongeluk en hartseer.


Boelies is fisieke en / of verbale aanranders! Hulle het nie liefde in hulle nie. Wat ʼn tragiese lewe om te ly (doelbewus teenoor lei).

Comments


bottom of page